Thursday, October 19, 2023

Die hartseer en pyn van 'n kind

Vanoggend gaan ek deur my gallery van foto's en vir een of ander rede stop ek by die foto. Ek vergroot hom, onmiddellik vul die gesiggie my oë met trane.  Met die eerste opslag het ek dit nie raak gesien nie, maar toe ek die foto vanoggend vergroot, sien ek die geweldige hartseer en pyn in die gesiggie van my kleinseun AJ.
Watse ongelooflike seer het hy nie op daardie oomblik ervaar nie. Trane moes sekerlik gevloei het daar waar hy alleen langs 'n dam sit en peins het.

Ouers wat vars uitmekaar is en die leemte van 'n moeder wat nie meer saam dinge meemaak nie.  Die hoekoms en waaroms wat op daardie oomblik deur sy gedagtes gegaan het 

My kind hoe wens ouma suid-afrika vanoggend dat sy net daar kon wees vir jou. Jou net kon vasdruk en saam jou huil. 

Besef ouers wat hul aan hul kinders doen wanneer hul onbesonne dinge aanvang met verwoestende gevolge en letsels laat op hul kinders. Dit net omdat aan eie behoeftes gedink word en kinders nie in ag geneem word nie.

Wanneer ernsaamheid, verlange en depressie lei na drank, dwelm en seks misbruik. Wanneer  ontoegeeflikheid en gebrek aan ondersteuning vir die ander party se behoeftes lei tot vernietigende aksie. Wanneer partye nie hul eie tekortkominge wil erken of hulp wil kry nie.

Dan word  kinders die slagoffers van die aksies. Dan word kinders meestal van die tyd ook gevolge van die aksies,  onvervulde volwassenes.

AJ ouma bid vir jou en Alrie. Ouma bid en hoop dat daar versoening sal kom, al lyk die kanse skraal. By God is niks onmoontlik nie.

Ouma sal altyd lief wees en daar wees vir jul almal.


Saturday, September 09, 2023

Geluk Rayden

More Rayden. 
Ouma wil vandag vir jou baie geluk wens met jou 11de verjaardag. Mag jy 'n baie mooi en geseënde daggie hê. Geniet elke oomblik van jou daggie en res van die jaar. Weet net dat ouma baie lief is vir jou, al ken jy my nie, want ek word nie toegelaat om met jou kontak te hê nie. Die redes hiervoor moet jou ouers maar aan jou verskaf, want ek weet regtig nie hoekom nie.  

Liefde Ouma Etrecia

Monday, May 15, 2023

VIR RAYDEN

 My liefste Rayden,

Ek skryf vandag hierdie ope brief met die grootste liefde en deernis aan jou. Ouma hoop en bid dat jy eendag hierdie sal kan lees en verstaan waarom jy my nooit geken het nie en wie die vervreemding meegebring het.         

Ouma skryf vandag hier vir jou na 'n baie baie lang tyd. Nie omdat ek nooit aan jou dink nie, maar omdat ek soms net voel alles is tevergeefs. Nie net dink ek elke dag aan jou nie, maar ry ek ook sovele kere by jou skool en huis verby en wens ek kon net ingaan om vir jou hello te sê, en om jou ‘n drukkie te kan gee.

Soveel kere wens ek, ek kon by jou sport wees, skool byeenkomste ensovoorts wees. Telkemale probeer ek om inligting omtrent jou aktiwiteite te bekom, maar elke keer beland ek in 'n doodloop straat. Nooit vergeet ek jou verjaarsdag nie, al het ek ‘n paar keer gemis om vir jou ietsie te skryf met jou verjaardag, want sien jou verjaardag val op dieselfde dag as jou oorlede oupa Stephan s'n en toevallig vandag 9 Mei sou ons huweliks herdenking gewees het, as dinge nie vir ons verkeerd geloop het nie.

Ongelukkig word ek van jou af weggehou en verbied om jou te sien vir welke rede ookal. Soms wens ek, ek het geweet wat vir jou vertel word van jou bloed ouma Etrecia, jou familie aan pappa se kant. Jou eie pappa het my verbied om jou te sien.

Tot vandag toe weet ek nie wat die rede hiervoor is nie, Dit nadat ons in 2018 ontmoet het en ek by jou grade plegtigheid was. Soos ek hier tik, is jy nou al 10 jaar oud en word jy September 2023 11 jaar oud.

Jou ma se rede is sy hou nie van my nie, wat jou pa se beweegrede was weet ek nie. Ouma mis jou en al my ander klein kinders. Jou nefie en niggie in Namibië ken my darem en weet wie ek is.

Ek sou so graag wou weet of jy rugby speel, krieket speel en wat jy van hou. Sou so graag jou net vir ‘n dag of twee of selfs ‘n naweek by my wou hê. Ongelukkig het jy ‘n ouma Linda Theron, mamma Jean-Marie Theron en pappa Stephan van der Westhuizen wat weier dat ek kontak met jou moet hê.

Ek het al ‘n regsaksie begin toe ek skielik in 2018 toegelaat was om jou te sien en dit toe laat vaar, net om weer uit die bloute geweier te word om jou te sien.

Jy sien Rayden, ek was die Januarie 2019 by een van jou atletiek byeenkomste toe jou ouma Linda jou ma bel, by die skool opdaag en jy summier van my af weggehou is sonder dat ek deel kon word van jou. Die rede:  “Ouma Etrecia verwar jou” net daarna het pappa my verbied om ooit weer by een van jou byeenkomste op te daag. So weier die skool ook om enigsins enige iets van jou vir my mee te deel.

Rayden, jy moet weet, ek wil en wou so graag ook ‘n ouma vir jou wees, maar ek word nie toegelaat of is nooit toegelaat om dit vir jou te kon wees nie.

Hopelik sal jy eendag, wanneer jy groter is, die vrae aan jou ouers en ouma Linda kan vra. Hopelik sal hulle vir jou die regte redes kan gee, wat ek tot nou toe nie weet wat dit is nie. Duidelik is dit van my kant af onverstaanbare redes en was ek nooit onredelik of ontoeganklik vir besoeke aan jou of jou ouers aan my nie.

Jy word toegelaat om vreemdes te leer ken, ‘n oom wat nie eers jou bloed oupa is nie, oupa te noem, Ja ouma Linda se vriend en waarmee sy loop en spog het dat jy hom  nou al oupa noem. Jy mag by vreemdes gaan kuier, bly, gesels en sosialiseer, maar ouma Etrecia is verbode.

Rayden ek kan net glo en vertrou dat ons paaie eendag sal kruis voor ek my kop neerlê. Hopelik sal ek jou kan leer ken wanneer jy al die dinge sal bevraagteken en in ‘n mooi jong man verander het. Hopelik sal ons nog saam kan lag en ‘n bietjie pret kan hê.

Mag jy ‘n mooi en vol lewe hê Rayden al ontmoet ons mekaar nie. Mag jy nie dieselfde foute maak wat jou ouers gemaak het nie. Mag jy ‘n vol geloofslewe lei met respek en liefde vir ander. Mag jy ‘n lewe lei sonder bitterheid en wrok teenoor ander.

Ouma wens vir jou net dit wat mooi en goed is toe vir die toekoms. Ek gaan probeer om met elke verjaardag van jou 9 September elke jaar , hier vir jou ietsie te skrywe en ‘n afdruk daarvan vir jou na te laat.

Mooi gaan

Liefde Ouma Etrecia     

 
                

09 Mei 2023                                      


Monday, February 27, 2023

My kind sal jy....?

 


Ek sit nou die eendag in die dokter se ontvangs lokaal en wag vir my man om uit die laser kamer te kom. So in die sit en wag, eintlik het ons in die gangetjie gesit en wag, kom ‘n ma, dogter en ouma verby.


Die ma is ietwat aan die lang kant, dan die dogter effens korter en so treetjie agter die ma, die bejaarde statige ouma.

In die verby gaan vang my oog die bejaarde tannie se hand in die groot sterk jong hand van haar dogter. (Ekself het so pas my pensionaris jare betree). Ek staar my vas teen die treffende prentjie van hierdie jong hand wat die bejaarde hand vashou en besef hoe vinnig ons oud word.

Ten aanskoue van die mooi gebaar en sonder geen rede, raak ek net daar bewoë en kry trane in my oë. So mooi prentjie van respek, omgee en liefde laat my aan my eie oud word toekoms dink.

Terwyl ek nog sukkel om my trane in bedwang te bring, kom my man  uit die laser kamer en moet ons weer terug na dokter se spreekkamer. Met ‘n gesukkel hou ek die trane terug en met ‘n skor stem vra ek manlief hoe dit gegaan het met die laser prosedure. Alles goed afgeloop antwoord hy en stap ons voort na dokter se spreekkamer.

So in die stap begin die vraag toe deur my kop maal. Met my eie kinders en kleinkinders wat so vêr van my af woon, vra ek myself:  my kind sal jy my hand ook eendag vashou in joune,  soos ek joune vasgehou het toe jy begin loop en rond hardloop het? Sal jy dit vir my ook doen my kind?

 

Sal jy …….?

 

Liefde ma en ouma                

Etrecia

Sunday, September 08, 2019

Geluk Rayden

Sewe jaar terug is my oudste kleinseun gebore. In sewe jaar kon ek jou bitter min te siene kry of jou leer ken. Tot nou toe word my kontak met jou vir een of ander duistere rede geweier. Ouma hou jou geskenkies vir jou tot jy groot genoeg is om self agter die kap van die byl te kom.  Ouma wil vandag vir jou sê Rayden, mag jy môre ( 9/9/2019) 'n baie mooi geseënde verjaardag geniet. Mag ons Hemelse Skepper jou op jou lewenspad vergesel. Liefde ouma Etrecia.