Monday, November 21, 2005

My alles, my wese in een

Sedert ek laas hier geskryf het, het baie water in die see geloop. So swaarmoedig soos 'n mens maar kan raak so vol lewe en opgewondenheid kan daar ook wees.

Sedert ek laas hier so swaarmoedig was, gebeur daar so nou en dan ook iets wat weer lewe gee. Die ou jaar het vir my maar baie donker geeindig en weereens het HY in sy Voorsienigheid ook weer lewe en hoop gegee en het die jaar met spoed en hoogtepunte afgeskop, alles met SY genade en seen.

Dinge soos kinders se prestasies wat jou bors laat swel van trots, hul kwinkslae en manewalesse. 'n Besigheid wat oornag begin floreer, wat meer kan 'n mens vra?

Steeds bly daar ook die donker sy waar riviere stede oorstroom en damwalle breek en oorstroom, maar die oorstromings het niks met die werklike natuurrampe te doen nie. Dit is die innerlike strome van trane wat alles na die innerlike mens oorstroom. Die hartseer, die seerkry wat die ou jaar meegebring het. Die verlies aan geliefdes, die verlies aan persoon, individualiteit en die emosionele. Die seerkry van 'n vrou waar sy net moet wees. Moet wees in alles wat sy doen vir haar man, haar kinders.. net moet wees. Net moet wees vir God en Sy Wil, net moet wees vir ander, net moet wees ..... daar waar die vrou in haar nie tot uiting mag kom om ook haarself te kan wees nie.

Dan wonder ek as dit so in SY Raadsplan beskik is, Sy doel met die vrou is, dan moet 'n mens maar net wees...
Die damwal het gebreek,
Haar trane het oorstroom
Na binne - onsigbaar
Van hul wat haar oorstroom
Gestroop van emosie
Gestroop van individualiteit
Gestroop van menswees
Soos oorblyfsels na die vloed
Is sy maar net om te wees..

Soli



Thursday, November 10, 2005

My dagboek, my ontladingspunt, my alles...


Wanneer 'n mens skryf, wonder 'n mens dikwels waar om te begin. Veral as die bladsy se naam is "Get rid of Grudges" (raak ontslae van alle wraakgevoelens, emosies, ens. Maar waar begin 'n mens? Goeie vraag...

Ons ou wereld is vandag so deurmekaar, vol chaos en eiewys. Wanneer jy 'n terugblik gooi op jou self van kleintyd af tot waar jy vandag is en deur alles wat 'n mens moes gaan om te kom waar jy is vandag, dan moet daar mos 'n baie Groter Mag as ons wees om ons deur alles te kon dra. En ek dink dit is dalk die boodskap wat ek hier wil oordra

Ons is so geneig om almal en alles om ons die skuld te gee. Te manipuleer en te intimideer, maar hoe kyk ons na ons self. Is jy die arrogante een of die gewillige slaaf of die een wat nooit foute maak nie. Hoe verwerk mens al die terugslae, teenspoed en voorspoed in die lewe?

Vir my is daar net een antwoord en dit is deur te glo. Te glo in HOM wat hemel en aarde geskape het. Vas te bly in die geloof, hoop en 'n vaste vertroue in HOM met die oog op die toekoms wat reeds vir ons uitgespel is. Waarom vashou aan die aardse dinge? HY het ons tog verlos van alles wat boos en onrein is. Hoekom wanhoop jy dan nog?

Glo in HOM, Vertrou op HOM en HY sal jou die weg en die waarheid aanwys.

Net 'n klein bietjie van myself. Ek was eens ook 'n mooi jong meisie met baie ideale en drome waarvan soveel geleenthede verspil was en verkeerde besluite geneem was. Jy raak verlief, verloor daardie "groot liefde" in jou lewe en trou met die "eerste" en "beste" man wat jou dan skielik geval. Maar nooit sal jy daardie een liefde in jou lewe vergeet nie. Jul verloor kontak en op 'n dag spoor jy hom op (hy sowat 1500km van jou af), en met 'n jaloerse besitlike man, mag of kan jy nie vriende wees nie. Is dit nie tog waaroor naaste liefde gaan nie?

Ek gun my vriend sy gesin, sy plaas en veral voorspoed en seen wat hy seer sekerlik meer geniet as ek. Dalk is ek nou stompsinnig om te dink dat daar nie ook vir my ook soveel seen en voorspoed was/is nie. Tog is ek geseen met 2 pragtige, gesonde, normale kinders. 'n Man wat omgee en so vir sy gesin wil sorg dat hy die versorging van sy gesin (geestelik en emosioneel) verwaarloos het. 'n Man wat gemanipuleer en intimideer het, wat sy gesin sielkundig kan afkraak en tog jou so intimideer dat jy soos 'n skoolkind voel wanneer hy met jou praat en jou laat skuldig voel.

Dan vra ek myself af, was dit die 19jaar werd? Dan verwys ek weereens na my inleidings gedeelte - al wat my staande gehou en nog steeds hou is my geloof en vertroue in HOM wat ons gemaak het. HY is die voleinder en beskikker van Alle Dinge.

Groete

Tot ons weer gesels

Soli