Tuesday, November 20, 2007

Die hartseer, die pyn en einde van 'n era

Ja, so gebeur dit ook nou. Na 4 jaar se verwoestende baklei , gevloek, geskel en slegmaak het 'n 20 jaar oue huwelik op 'n einde gekom of altans is die einde besig om te gebeur. Wat die pad nou voorle en die toekoms nou inhou sal net vader tyd leer. Nog steeds is die slegmaak en seer nie verby nie, dit hou aan en kan ek net hoop dat my damwalle van bitterheid, woede en seer nie weer sal breek vir 'n derde keer nie. Dat my geduld wat huidiglik tot op die uiterste beproef word sal bly en nie weer die swakheid van my menswees na vore sal bring nie.

In al die tyd is my menswees doodgemaak, my geloof en vertroue het gekwyn en die pad na genesing onseker. Nog nooit was daar soveel seer, hartseer en bitterheid in my lewe soos nou nie. Danksy 'n dogter, familie en vriende hou ek my kop omhoog en probeer ek my trots behou en positief bly. Nog nooit was ek so platgeslaan teen die aarde soos in hierdie tyd nie. Ek is soos 'n dwalende gees wat maar net leef van dag tot dag tot die finale lui van die klok hoorbaar is. Dit is ook in die tyd wat die ware sy van die mens met wie ek voor Hom die belofte afgele het na vore kom, wie jou werklike vriende is en wie nie. Wie jou werklik bystaan en wie nie. Buiten dit alles staan ek nog steeds alleen buite die morele ondersteuning wat ek ontvang.

Dit was nie 'n maklike besluit wat geneem moes word nie. 'n Besluit waarmee 4 jaar al geworstel is en deur geredeneer was en die antwoord elke keer by dieselfde punt uitgekom het - dit is oor, verby, gedaan, dinge gaan nie verander nie...

Ek glo dit is nie wat ons Hemelse Vader wil he nie, dit immers stel Hy ook so in sy Boek en voorskrifte, dit is geweld, maar is geweld binne Sy beloftes nie maar ook net so erg nie? (Violation of Vows?) Maar beveel HY ons tog ook nie om met die sondige dinge te breek en Sy wee te volg soos HY wil nie? Met die dinge te breek wat ons in die afgrond inlei..

Tog is dit deesdae skokkend om te sien hoeveel huwelike na 'n dekade van 20 jaar die hoogste prys betaal en sy tol eis. Het dit nie tyd geword dat ons weer terugkeer na SY wil en beloftes en so geseend wees in die huwelikslewe nie? HY beveel ons tog om te breek met die dinge wat verkeerd is, hoerery, dronkenskap, geweld, sedeloosheid en so meer. Hoe kan iemand in so huwelik bly wanneer een party nie daarvan wil afsien nie? Maar tog het die saak ook twee kante. Ek staan ook nie onskuldig in alles nie, maar sodra ek begin om dinge te probeer regstel dan begin dit maar weer op die gewone ou trant aangaan tot daar weer 'n verskil kom en die bom dan bars. solank ek hom tevrede en gelukkig hou en dinge weer hul normale gang gaan is alles reg met hom, ongeag wat dit aan my innerlike behoeftes doen.

Trane is daar ja, baie.. die seerkry van die kinders, die ontwrigting, die te nakoming en eintlik, eintlik wat van ons vereis word is om verby dit alles op te kyk na HOM wat ons geskep het. HY wat ons deur beproewinge lei en blootstel om ons geloof en vertroue in HOM te toets. Dit is dan in die tye wat 'n mens besef hoe swak en nietig die mens werklik is. Niemand maar niemand kan en sal ooit verhewe wees bo HOM wat ons geskep het nie. HY wat alles is, in alles is, by alles is wat niemand meer wil raaksien nie.

Maar in ons menslike swakheid en klein geloof kan ons dit nie vermag nie. Is dit omdat ons nie wil of kan nie? Of is dit omdat ons nie meer bid en bely dat HY ons enigste Verlosser en Saligmaker is nie? Dat ons nie meer sy Woord wil hoor en lees nie? Dat vermaak en genietinge ons alledaagse lewe oorheers. Die soeke na rykdom en aansien ons so verblind dat ons nie meer SY Liefde en Genade ervaar of raaksien nie?

Al wat ek nog kan se is dat ek self stomgeslaan staan voor dit wat in my lewe gebeur het en aan die gebeur is. Dan vra 'n mens waar het dinge begin vekeerd gaan? Waar het 'n mens die pad byster begin raak? Dalk weet jy, maar wil dit nie erken of dit hardop uitspreek nie. Ek glo dit was die dag toe ek daardie duiwelse selfoon oproep ontvang het in 'n tyd wat die sataniste so bedrywig was. Ons weet almal van al die waarskuwings sms'e wat die rondte gedoen het teen die sataniste se bedrywighede. In my onkunde het ek gereageer op die oproep deur sekere syfers in te sleutel omdat "Telkom" sogenaamde lyn toetsings gedoen het. Te laat het ek besef dat die syfers wat ingetik was en die laaste siniese, vreesaanjaende gelag aan die einde die werk van 'n satanis was en dat Telkom nie lyntoetse doen op selfone nie. 'n Oproep wat my totaal en al onkant gevang het.

Daarna het sekere goed weer met my gebeur terwyl ek geslaap het. Aanvanklik het ek gedink ek het dit gedroom maar dit was so werklik dat dit my tot vandag toe pla. Die tekens was alles daar en mag hierdie werke van vervloeking van satan deur GOD ALLEEN vernietig word en die bose uit ons lewens verwyder word. Daarom gee ek aan GOD ALLEEN die eer, HY wat ons Skepper, Heerser en Verlosser is in hierdie aardse wereldse bestaan van bose werke wat die mensdom van HOM af wil weglei.

Mag ons, ons HEMELSE VADER vir ewig loof en prys vir SY weldade, liefde en genade wat hy altyddeur aan ons betoon. HY ALLEEN IS DIE ALFA EN DIE OMEGA, DIE BEGIN EN DIE EINDE, SKEPPER VAN ALLE DINGE. LOOF EN PRYS HOM! HY IS ONS ROTS, HOEKSTEEN, TROOSTER by wie ons die ewige vrede en rus kan vind wat alle menslike verstand te bowe gaan.

Mag ons almal weer hierdie troos, sielerus en vrede vind by ons Hemelse Vader soos Hy ons beveel wanneer die storms tot ruste kom en verdwyn.

Mag God's rykste seen met een almal van ons wees vir ewig en altyd.

Tot ons weer gesels. Die nuwe begin....

Soli