Tuesday, August 12, 2008

Om Alleen Te Wees


Vanoggend word ek vroeg wakker (so om en by 04:00) met die liedjie Amazing Grace wat in my kop draai. Ek begin dit neurie, staan toe op, maak koffie en gaan weer rustig le totdat my radio alarm afgaan. Altans het ek die alarm wakker gemaak....

Ek le toe nou soos maar altyd in die afgelope paar maande en terug dink. Skielik kom die woorde van Psalm 23 by my op en wonder ek hoekom het die onderwysers dit altyd by ons as kinders ingedreun. Ek het toe nie verstaan nie, want dit was maar net nog 'n Psalm, selfs ook nie op 'n latere tyd in my lewe nie. Noudat ek ouer word weet ek dat dit eintlik 'n Psalm is vir vertroosting, rus soek en vrede in Sy Arms wanneer die storms dreig en onrustigheid mens beetpak. Dit is 'n Psalm waar jy vrede kry, troos kry met die wete dat Hy jou altyd vashou en teen alles sal beskerm. Die foto hierby het ek met opset so gekies, want dit is waaraan Sy rustigheid my laat dink, daar waar rus, stilte en vrede is.

Iemand het eendag net voor hy selfmoord gepleeg het, die Psalm gereeld gelees. Vandag wonder ek, en dit is nou sonder om te oordeel of te veroordeel, of die persoon werklik geweet het of besef het dat dit eintlik 'n Psalm is waarin 'n mens in tye van alleenheid en verlatenheid, troos kry. God se versekering dat HY jou nie alleen laat nie. In tye wanneer jou vriende en familie jou verlaat het en teen jou opstaan, dat HY ALTYD DAAR IS VIR JOU.

Nou weet ek, ten spyte van my alleenheid, GOD daar is vir my. Met of sonder my foute en verkeerd in my lewe. Laasnag was die gevoel daar dat ek "dood" is en ek dit nie verdien om my voor my Skepper neer te buig nie. Weereens was HY DAAR! Vir my, vir elkeen wat Hom nodig het, ons moet net bly soek, HY is altyd daar ons is nooit alleen nie.

Orals in Sy Woord gee Hy die versekering ons hoef nie bang te wees vir enige gevare wat dreig of mense wat teen ons opstaan nie. Ons moet net na Hom luister en doen wat HY vra. Selfs al vra Hy van jou om jou gesin en familie te verlaat.. Sal jy dit doen? Elders in die Skrif, daar in Lukas iewerste, se Jesus vir sy dissipels: "Jul het my gevolg sonder skoene, sonder reissak, sonder kos....Het julle toe iets kort gekom?" en hul antwoord was: "Nee, niks nie Here..."

As ek dit dan nou so mag stel "after all" is dit nie so sleg om alleen te wees nie. Alleen wees is 'n tyd om te oordink, met God te verkeer, Hom weer te ontdek en te weet dat ons aardse besittings, vriende, familie maar net tydelik is en ons Hemelse rykdom en skatte vir ons wag.

Halleluja, loof en prys Hom!

Groete

Soli