Thursday, September 04, 2008

Om Vry Te Wees

Nou die dag sit ek so en ek lees deur al my stukke wat ek al hier geskryf het. Skielik kom die besef by my op hoe neerdrukkend en tog werklik al hierdie dinge is wat in my gemoed aangegaan en omgegaan het en wat met my gebeur het.
Uiteindelik het ek ook tot die besef gekom dat ons Hemelse Vader 'n pad met my gestap het en nog steeds stap. Hy het my losgemaak van die dinge wat agter my is. Die slegte dinge, die verkeerde dinge, al die dinge wat die lelike in 'n mens na vore kan bring.
Vir my is dit asof ek nou 'n nuwe lewe begin ontdek. 'n Lewe waarin ek myself kan wees, myself kan uitdruk en net simpel kan wees met tye, sonder dat iemand snaaks dink daaroor of my berispe daaroor dat dit nou nie eintlik by my ouderdom pas nie. En wat 'n wonderlike gevoel is dit nie! Uiteindelik is daar mense wat my aanvaar vir wie ek is, vir wat ek is en vir wat ek doen. Ek kan my eie idees uitleef sonder om te wonder of dit dalk verkeerd mag wees.
Al is my jare nou effe hoog en almal my nou al "tannie" noem, is dit vir my nogals vleiend, want sien, toe ek jonger was het ek nie die voorreg gehad om myself te geniet soos wat elke individu veronderstel is om te kan doen sonder om aan ander aanstoot te gee of berispe te word of te doen soos ander dit gedoen wil he nie. Ek geniet nou elke oomblik van my lewe en dit is lekker! Al is ek tannie vir almal. Solank die jonkheid van gees daar is, glo ek nie is daar enige fout mee nie en is dit lekker om saam met my susters en broer se kinders te kuier.
Wat dit nog die lekkerste maak is die feit al is daar nog donker agter my en onopgeloste sake, oorskadu die lewenslus al daardie donker en geniet ek die vryheid waarin ek kan doen wat ek wil, wanneer ek wil en soos ek wil sonder om aan enige iemand rekenskap te gee behalwe aan my Skepper.
Die swaarkry is nog daar, maar daar is soveel mooier dinge nou aan die gebeur in my lewe wat daarvoor vergoed. 'n Mens kom dan ook tot die besef dat groot dinge, mooi dinge nie meer belangrik is nie, maar die kleiner dingetjies waarin vreugde en blydskap le. Die dinge waarin ons Vader Hand is en voorsien. Die natuur, ons werk, ons gesondheid, ons kinders en alles wat daarmee gepaardgaan.
Hiermee wil ek vir elkeen net die mooie toewens. Ons Skepper voorsien in alles, al lyk dit nie altyd so nie. Ja, daar is nog baie om te leer en te ervaar. Om vry te wees is om vry te wees van die dinge wat 'n mens gekniehalter en vasgehou het. Die dinge wat jou gekeer het om jouself uit te leef, maar bowen alles, die dinge wat jou van jou Hemelse Vader verwyder het.
Want om vry te wees beteken om HOM in alles te ken, HOM in alles te vertrou en al jou hoop en bekommernisse en swaarkry op HOM te plaas.
Mag Sy seen en genade op u almal rus en Sy vrede met jul wees. Die vrede van HOM wat alle menslike verstand te bowe gaan.
Vrede vir almal! Aan God alleen die eer! Soli Deo Gloria!
Soli