Thursday, January 21, 2016

'n Brief aan my kinders

               
      Dierbare kinders,

Dit is met verlange en baie heimwee dat ek die brief aan julle opdra.

Die Here het ons  geseën met twee gesonde normale mensies, geweef in die moederskoot.
Die wonderlikste geskenk wat ‘n ouer kan ontvang.

Ons het dit nie altyd maklik gehad nie, maar werklike swaarkry het ons ook nie gehad nie. Die Here het altyd vir ons gesorg, net soos HY nou ook vir ons sorg. As ouers kon ons altyd voorsien in julle behoeftes en gee wat julle nodig gehad het.

Ons het julle in geloof en liefde grootgemaak om in respek en verantwoor-delikheid op te tree, nie net teenoor julself nie, maar ook teenoor jul medemens. Ons as ouers was en sal  nooit volmaak wees nie en daarom ons bes probeer om vir julle ‘n voorbeeld te kon stel.

Op skool het julle geskitter en kon mense nie uitgepraat raak oor  twee prag blomme wat altyd hul medemens met die grootste respek hanteer het en glo julle vandag nog doen. Wat ‘n trots en sieraad was dit nie vir ons as ouers nie. Ons het heeltyd gepronk en uit ons nate gebars van trots.

Totdat.....totdat die duiwel ons wingerd begin verniel het. Toe ons in geloof begin faal en aan wêreldse dinge begin toegee en meegee, het ons getuimel en bly tuimel totdat ons nessie uitmekaar geruk is. Ons as ouers het ons kinders gefaal en was onherstelbare skade aangerig.

Die egskeiding en dood het ons ingehaal en ons verder uitmekaar laat spat. Verliese van eiendom, besittings en finansiële nood het dit vererger. Ten spyte van diepe hartseer het julle sterk bly staan. Julle het verwerping ervaar totdat die Hemelse Vader ingegryp het om mense op jul weë te plaas. Na maande se trauma verwerking en wroeginge het jul staande gebly en geleer om mislukkings te oorkom en suksesse te bereik.

Hereniging en samesyn het ons weer nader aanmekaar gebring met meer waardering en begrip vir mekaar. Nou is julle volwasse persone, elkeen met sy eie uniek wees. Terugslae het julle nie van stryk gebring om aan te hou probeer, vas te hou in geloof, hoop en liefde nie.
Julle is geseën met ‘n werk, gesondheid en mense om julle wat omgee en bowenal die geskenk van ‘n seun en kleinseun.

Tegnologie oorbrug afstand, begrip vir omstandighede gaan gepaard met geduld en liefde na die uitsien en brandende verlange van werklike samesyn.

Mag God se liefde, vrede en seën met julle wees. Vir julle berusting bring waar julle is en in alles wat julle doen.


Met verlangende liefde

Mamma 21/1/2016