Friday, February 03, 2017

DIE DOOD EN GEBOORTE

Hoe bring mens dood en vreugde bymekaar uit? Die een ding wat in die afgelope tyd in my kop bly maal en maal. Om te probeer verstaan is  bo menslik en glo ek nie vir ons as mens beskore om te verstaan nie.

Een of ander tyd word elkeen van ons deur die dood geraak. Vanmore was my gemoed weer vol van hartseer en my oe vol trane aan die gedagte van al my geliefdes wat ons as gesin en familie aan die dood moes afstaan.

Uit my vorige huwelik het ons eers my skoonpa, toe 'n ouma (aan eerste eggenoot se kant), toe 'n neef, toe 'n tante  (almal in 'n bestek van een jaar) en 'n paar jaar later my eerste eggenoot  afgestaan aan die dood. Tussenin was daar ook 'n vriend en vriendin wat die tydelike vir die ewige hiernamaals verruil het.

In die laaste 3 jaar moes ek weer langs oop grafte staan, eers my ousus, 'n jaar en 'n half later my eie pa, 11 maande en 10 dae later my ma (nou presies 'n maand gelede).  Vier dae na my ma se begrafnis word 'n kleinkind vir ons gebore en word dit trane van hartseer en blydskap, want kleinding is op 27 weke gebore en 'n skrale 460g geweeg, normaal en gesond met nog enetjie te wagte in Augustus 2017. 

Wanneer mens voor 'n oop graf te staan kom, wonder mens dikwels (en dit is wat my vanmore ook weereens aangeraak het) wat is die nut en doel van lewe werklik.

In die begrafnisrede van my ma se roudiens, het  die predikant na my ma verwys as iemand wat letterlik soos 'n klein kindjie geglo en vertrou het op haar Hemelse Vader - wat 'n wonderlike getuigskrif en voorbeeld is dit nie van 'n ouer aan hul kinders nie.

Ek onthou hoe my pa altyd sy Bybel op sy lessenaar in sy kantoor gehad het. Nie skaam om sy Bybel te gebruik nie en stiltetyd gehou het voordat hy en my ma aan die werk gespring het om kos op die tafel te voorsien. Dit laat mens met stof tot nadenke van waaroor die lewe nou eintlik regtig gaan. My ouers was nie arm nie, ook nie ryk nie, maar hul kinderlike geloof en vertroue in hul Hemelse Vader het hulle deur moeilike, swaar en storm tye gedra.

Dit bring my terug na my eie swaar kry tye en word ek herinner aan die liefde van ons Hemelse Vader toe hy vir ons Sy Seun gestuur het om ons van ons ellende te verlos. Jesus Christus was nie arm nie en ook nie ryk nie Sy enigste Rykdom: God se liefde vir sondaars.

Ek het feitlik alles verloor voor ek my huidige eggenoot ontmoet het. Soveel kere het God ingegryp, herstel, gelei en voorsien. Daar was soveel innerlike worstelinge met God en die blindheid om Sy Wil raak te sien, het oop grafte gekos om wysheid en insig te bekom van waarom God 'n pad met mens loop.

Gewoonlik is daar 'n gevegtery oor nalatenskappe en wie erf wat na iemand se dood. Daarom het ek altyd vir my ouers gese ek wil niks erf nie. Ekself het nie my eie redenasie verstaan nie, tot ek tot die besef gekom het: "ek het God se liefde en geloof ge-erf". 'n Liefde en Geloof wat my ouers my van kindsbeen af geleer het. 'n Erfenis wat niks of niemand ooit van 'n mens kan beroof nie. 'n Kinderlike geloof en voorbeeld wat ouers vir hul kinders gestel het. DIT is die Grootste Rykdom wat iemand kan nalaat. 'n Rykdom wat oorgedra kan en moet word na die nasate - 'n rots wat altyd vas sal bly staan.

Nou kan ons in Geloof, Hoop en Liefde en die grootste hiervan is God se nalatenskap van LIEFDE, voortgaan in vreugde van nuwe lewe, met die wete, dat al ons geliefdes verhuis het na Ons Hemelse Vader se Liefdevolle woning.

Dat ons in vreugde hierdie Liefde van God kan laat onderrig en nalaat aan ons kinders en kleinkinders.

Mag God se seen, Liefde, Vrede en Vreugde met almal van u wees en op u rus wat hier lees.

Soli Deo Gloria

Etrecia