Hoeveel van ons voel nie seer, stukkend en gebroke binne onsself nie? Soveel van gee, neem, gebrokenheid en verwyte.
Geen egskeiding is maklik in enige geval nie. Gelukkig is die wie se huwelike wel gered kon word. Vir diegene waar dinge sover gegaan het dat selfs nie eers berading meer 'n uitweg is nie, kan geen mens die onbeskryflike pyn en seer binne iemand beskryf nie. Jy verloor feitlik alles, jou kinders, eiendom, jou menswees, jou individualiteit en al wat oorbly is die skrale mooi herinneringe van die min mooi verlede.
Die pyn wat gepaardgaan met slegse van die ander party, die verwerping van 'n kind, die selfverwyt dat jy nie meer kon doen om jou huwelik te red nie. Hoe kan mens met 'n eggenoot wat psigies nie gesond is nie, hoe kan jy wanneer 'n eggenoot na sy gesondheid wou omsien nie, hoe kan jy wanneer 'n eggenoot private vriende wil he en jy mag nie? Hoe kan jy as jy nie in jou self net mens mag wees nie?
'n Nuwe begin is ook nie maklik nie, van onder af, daar waar jy was toe jy vir die eerste keer aan die begin van 'n kleurryke loopbaan gestaan het na skool. Daar waar jy alles van nuut af moes kry en moes leer om op eie bene te staan.
Dit pyn in die diepste van jou wese, iets wat jy nie vir enige iemand kan beskryf nie. Dan kom 'n mens tot die besef dat jy in sulke situasies heeltemal alleen staan. Die sogenaamde gesamentlike vriende het skielik van die horison verdwyn. Het dit dalk te make met die ander party wat jou swart gesmeer het by hulle? Of is dit dalk die onbetrokkenheid en afsydigheid? Dan vra 'n mens jouself af was hulle waarlik vriende? Sou ware vriende nie beide partye onpartydig bystaan en ondersteun in sulke tye nie?
Die pyn van weet en sien hoe seer jou kinders het, om hul gebrokenheid te sien, hul weerloosheid. Dan dink mens hul is "okay" maar hul is nie "okay" nie. Hoe maak 'n mens dit vir hul ligter? Net om te se jy gee om en jy is lief vir hulle se nie alles nie veral nie waar hulle afgespeel word deur die ander party nie.
Dan kom die besef weereens HY die Alleen Verlosser en Saligmaker is daar! Altyd daar om iemand in hul hartseer, gebrokenheid, seerkry en alleenheid vas te hou en te vertroos. Altyd daar om op te vertrou en na op te kyk. HY Alleen is 'n mens se vennoot in seerkry tyd, in stukkende tyd, in alleen tyd.
Mag HY Sy seen stuur oor diegene wat wel morele ondersteuning verleen. Al is dit bewustelik of onbewustelik deur 'n epos, 'n foonoproep of net om te gesels. Dankie vir jou my vriend en vriendin wat luister en verstaan. Al kan jul nie raad gee nie, jul is daar in jul eie hartseer, vreugde en lyding en ek dra vandag my kruis saam met julle op die pad na die Ewige Heerlikheid.
Loof Hom wat ons op ons pad na Hom toe lei! SY wee is die nou wee en saam sal ons daarheen deurgaan.
Tot ek weer gesels.
Soli
No comments:
Post a Comment