Dit is nie nuwe vrae nie, dit is alledaagse, elke dag se vrae wat bly opduik na beproewinge, rampe, verhoudinge skeefloop, ens.
Dit is vrae wat onbeantwoord bly. Vrae wat sekerlik almal op ‘n stadium vra: hoekom, waarom, ek verstaan dit nie, waarom ek, wie is ek, wat waar en waarheen? Hoekom het dit gebeur? Hoekom plaas die Here hierdie dinge op my pad? Hoekom bly dit aanhou gebeur?
Die tipe vrae wat jou in jou geloof laat taan. Jou geloof in God laat twyfel en laat vervaag. Dit is dan wanneer ‘n doodsheid jou gemoed oorweldig en jy begin ronddobber soos ‘n kurkprop op ‘n stromende rivier.
Tye wat jy sukkel om jou geloof in God te behou, te wonder of Hy nog werklik daar is. Al weet jy jou verstand sê vir jou Hy is nog daar, Sy Woord is nog daar. Dan word dit al moeiliker om met Hom te praat, jy sukkel om te bid, jy sukkel om te bly glo en jy probeer nie meer om te verstaan nie.
Elke dag word maar net nog ‘n dag. Net nog ‘n dag om te werk, eet en slaap. Vreugde ontbreek, opgewondenheid ontbreek na die uitsien van ‘n gebeurtenis, onverstaanbaarheid skop in..alleenheid en eensaamheid. Jy kyk met dooie oë na die lewe, ‘n doellose, rigtinglose, dolleeg lewe wat niks meer vir jou inhou nie.
Dit voel vir jou asof die Here jou toelaat om net kortstondig met hartstog, blydskap en vreugde lief te hê en dan net om dit van jou weg te vat. Dan vra jy: hoekom dan Here? Hoekom?
Jy begin wonder hoekom die Here toegelaat het dat die persoon oor jou pad kom? Wat was die doel en nut daarvan as alles net so vinnig tot ‘n einde kom? Jy sukkel om jou menswees te herwin, jouself te vind, van jou voete af te kom. Sodra jy dink jy begin herstel gebeur dit weer en weer en weer....
Dan vra ek Here my God waar is U?!
No comments:
Post a Comment