Saturday, April 28, 2012

3 JAAR LATER

Donderdag 26 April 2012 was dit 3 jaar wat my lewe finaal inmekaar getuimel en drasties 'n ander rigting geneem het. 3 jaar later is ek maar nog op dieselfde pad van hoekom, waarom en waarvoor? Met geen vooruitsigte en strompel maar die pad nog al sukkelende voort en probeer nog steeds bly hoop, glo en vertrou met 'n lee gemoed.

Hier en daar is daar 'n ligpuntjie...die voortuisig van ouma word, my dogter wat haar graad behaal het ten spyte van moeilike omstandighede. Dan se ek dankie aan 'n Hemelse Vader wat barmhartige samaritane oor haar pad gebring het om haar deur universiteit te sien.

Dit is dan wat ek voel ek my kinders gefaal het. Gefaal het in ouer wees, gefaal het in ma wees, gefaal het in bystand..veral finansieel en voel dit dan dat ek 'n niks is in hierdie wereldjie van ons nie. As ouer kon ek niks in sukses bereik en ploeter maar voort om net te kan bestaan. Vriende het ek nie meer nie, kennisse wel en familie wat nie meer regtig ware familie is nie.
Tog is die Hemelse Vader my steeds genadig en het ek nog kos om te eet, 'n plek om in te bly, 'n werk waarvoor ek dankbaar is maar dit nog steeds nie genoeg is tot volkome geluk en tevredenheid nie. Die gemis aan 'n lewensmaat, 'n vriend, iemand om mee te deel en saam dinge te doen laat die leemtes onvervuld bly.

Hemelse Heer, vergewe my vir my ondankbaarheid,  vir my gemoeds opstandigheid, bitterheid en eie ek. Help my om diegene om my lief te he en te vergewe wat my te na kom. Vader neem U die stuur oor van my lewe in die rigting waarin U wil he ek moet gaan en bly in beheer van my lewe. Vader dankie vir U grootheid en genade, U onverstaanbare liefde, vrede en vergifnis. Troos ons nou Here en bring berusting, vrede, seen en voorspoed. Dankie Hemelse Heer dat ons nog steeds na u toe kan kom in tye wanneer ons verlate voel en U ons enigste Vriend, Vertroueling, Vertrooster en Hawe is waarheen ons kan vlug. Aan u kom toe al die lof, die eer en heerlikheid tot in ewigheid om Jesus Christus Naam Alleen, Amen.

Friday, October 28, 2011

Wanneer Vrae Bly Knaag

Dit is nie nuwe vrae nie, dit is alledaagse, elke dag se vrae wat bly opduik na beproewinge, rampe, verhoudinge skeefloop, ens.

Dit is vrae wat onbeantwoord bly. Vrae wat sekerlik almal op ‘n stadium vra: hoekom, waarom, ek verstaan dit nie, waarom ek, wie is ek, wat waar en waarheen? Hoekom het dit gebeur? Hoekom plaas die Here hierdie dinge op my pad? Hoekom bly dit aanhou gebeur?


Die tipe vrae wat jou in jou geloof laat taan. Jou geloof in God laat twyfel en laat vervaag. Dit is dan wanneer ‘n doodsheid jou gemoed oorweldig en jy begin ronddobber soos ‘n kurkprop op ‘n stromende rivier.


Tye wat jy sukkel om jou geloof in God te behou, te wonder of Hy nog werklik daar is. Al weet jy jou verstand sê vir jou Hy is nog daar, Sy Woord is nog daar. Dan word dit al moeiliker om met Hom te praat, jy sukkel om te bid, jy sukkel om te bly glo en jy probeer nie meer om te verstaan nie.


Elke dag word maar net nog ‘n dag. Net nog ‘n dag om te werk, eet en slaap. Vreugde ontbreek, opgewondenheid ontbreek na die uitsien van ‘n gebeurtenis, onverstaanbaarheid skop in..alleenheid en eensaamheid. Jy kyk met dooie oë na die lewe, ‘n doellose, rigtinglose, dolleeg lewe wat niks meer vir jou inhou nie.


Dit voel vir jou asof die Here jou toelaat om net kortstondig met hartstog, blydskap en vreugde lief te hê en dan net om dit van jou weg te vat. Dan vra jy: hoekom dan Here? Hoekom?


Jy begin wonder hoekom die Here toegelaat het dat die persoon oor jou pad kom? Wat was die doel en nut daarvan as alles net so vinnig tot ‘n einde kom? Jy sukkel om jou menswees te herwin, jouself te vind, van jou voete af te kom. Sodra jy dink jy begin herstel gebeur dit weer en weer en weer....


Dan vra ek Here my God waar is U?!

Thursday, July 09, 2009

DIE LAASTE MAAL SO FINAAL

My laaste vorige inskrywing was 20 April 2009. Nooit het ek gedink dat my lewe 6 dae later so drasties sou verander nie. My eks man van 21 jaar het nog sy laaste epos aan my op 20 April gestuur en ek my laaste aan hom. Op 26 April 2009 het die Hemelse Vader dit behaag om hom van ons weg te neem.
Skielik was ek hierdie geskeide weduwee en het vir die eerste maal in my lewe nie geweet wat my te doen staan nie. Daar was soveel seerkry, soveel verbittering, soveel wrok en haat, soveel dinge wat verkeerd geloop het dan vra mens hoekom en waarom moes dit juis nou gebeur? Ons was presies 21 jaar getroud, 1 jaar vervreemd en 1 maand geskei, speel die ene dalk 'n rol? Hoe verwerk mens die dubbele trauma, eers die menslike skeiding en toe die skeiding van die dood - ons Hemelse Skeiding.

Hoe help jy jou kinders deur hierdie dubbele trauma gaan? Ek word maar net beskou as die geskeide vrou, maar verstaan mense werklik hoe dit my raak? Ek wonder baie en le baie nagte wakker oor hoekom moes dit nou juis so gebeur. Was ek destyds regtig so onredelik om 'n besluit te neem waarmee ek 4 jaar lank geworstel het? Wat was en is die doel van alles?
Mense verstaan nie altyd nie, selfs ek ook nie, ten spyte van al die lelik wat daar was, ten spyte van al die verskille en verkeerd, rou ek ook oor 'n maat wat nie meer daar is. Was daar dalk 'n boodskap in sy pleidooie aan my om terug te keer na hom? Was dit ons Hemelse Vader wat met my wou praat en ek nie wou luister?

Die seer sal seker nog lank duur en veral die kinders ly swaar. Skielik is daardie esktra heenkome, daardie ekstra inkomste, daardie ekstra aandag, vertroeteling en liefde nie meer daar nie. Tog wil ek hier ook my huldeblyk aan 'n pa, 'n vriend en eggenoot weer 'n keer weergee soos wat ek in die begrafnisbrief gedoen het en lui soos volg:
"Stephan, ek sal jou altyd onthou as iemand wat omgegee het vir almal wat jou lewenspad gekruis het - 'n omgee mens. Jou liefde vir jou medemens het geen perke geken nie. Jy was 'n pa, 'n vriend en eggenoot. Die mooi tye wat ons saam kon he sal my altyd bybly. Dankie vir 2 pragtige kinders waarop jy altyd trots kan wees. Rus in vrede."
Tot ons weer ontmoet, jou vrou en maat van 20 jaar.

Mag die Hemelse Vader vir ons nou die geleentheid gee om 'n nuwe begin te maak en nie weer dieselfde foute te begaan nie. Vooraf verhoudings te bou, die kinders by te staan en nuwe vriende te maak.

My boodskap aan iedere en elkeen wat hierdie blog mag lees is net dit: Vrouens wees lief vir julle mans en kinders, verdra hulle in hul swakhede, tekortkominge - wees net lief vir hulle al gaan dit hoe moeilik en moenie groen weivelde gaan soek waar dit nie nodig is nie.

So ook aan julle mans en kinders: Wees lief vir jul vrouens en ouers, verdra mekaar in jul swakhede en tekortkominge, praat met mekaar en deel met mekaar. Mans dra jul vroue op jul hande soos die Bybel jul beveel: "soos 'n seelring op jou hart". Moenie jul vrouens maar net as vanselfsprekend aanvaar nie. Moenie groen weivelde gaan soek waar dit nie nodig is nie. So ook vrouens aan julle mans en kinders. Wees 'n gesin en bou op die Bybelse fondament van liefde, geloof, vertroue en eensgesindheid.

Mag God u een en elkeen seen met SY liefde, genade, geloof, vertroue, geduld en verdraagsaamheid.
Soli



Monday, April 20, 2009

DIE VERSUGTING

Hierdie wil ek laat aansluit by my vorige blog van "OM VRY TE WEES".
Vandag besef ek eers hoe vry 'n mens werklik kan wees. Terwyl 'n mens nog steeds die vernedering van slegse moet verdra en verduur ten spyte dat alles nou verby is, weet ek dat ek nou veilig kan gaan rus en voel in my Hemelse Vader se warm omhelsing.
HY is al een wat ken en weet en by wie daar volle vertroue is. Hy is al een wat geen mens ooit in die steek sal laat nie. Die wete dat HY my kalm hou, my rustig hou ten midde daarvan dat die lelike nou onlangs in my uitgelok was, weet ek, ek het SY vergifnis ontvang.
Mense praat, mense skinder, maar dit word hul vergewe omdat hul nie van beter weet nie. Omdat hul net insig in hul eie toon sonder om die ware feite te wete te kom. Daarom wil Soli vandag aan almal daar buite se ek is lief vir julle almal of jul van my hou al dan nie of jul my ken al dan nie en of jul dink ek is baie morbied - al dan nie. Daarom wil ek ook vir jul se vrede vir julle met 'n opregte hart.
Die wat dit wil glo, glo dit, die wat nie wil nie mag SY seen op jul rus en jul vrede en rustigheid in SY omhelsing vind. Psalm 23, Psalm 128.
Mag SY genade en vrede ons almal omvou.
Groete
Soli

Thursday, September 04, 2008

Om Vry Te Wees

Nou die dag sit ek so en ek lees deur al my stukke wat ek al hier geskryf het. Skielik kom die besef by my op hoe neerdrukkend en tog werklik al hierdie dinge is wat in my gemoed aangegaan en omgegaan het en wat met my gebeur het.
Uiteindelik het ek ook tot die besef gekom dat ons Hemelse Vader 'n pad met my gestap het en nog steeds stap. Hy het my losgemaak van die dinge wat agter my is. Die slegte dinge, die verkeerde dinge, al die dinge wat die lelike in 'n mens na vore kan bring.
Vir my is dit asof ek nou 'n nuwe lewe begin ontdek. 'n Lewe waarin ek myself kan wees, myself kan uitdruk en net simpel kan wees met tye, sonder dat iemand snaaks dink daaroor of my berispe daaroor dat dit nou nie eintlik by my ouderdom pas nie. En wat 'n wonderlike gevoel is dit nie! Uiteindelik is daar mense wat my aanvaar vir wie ek is, vir wat ek is en vir wat ek doen. Ek kan my eie idees uitleef sonder om te wonder of dit dalk verkeerd mag wees.
Al is my jare nou effe hoog en almal my nou al "tannie" noem, is dit vir my nogals vleiend, want sien, toe ek jonger was het ek nie die voorreg gehad om myself te geniet soos wat elke individu veronderstel is om te kan doen sonder om aan ander aanstoot te gee of berispe te word of te doen soos ander dit gedoen wil he nie. Ek geniet nou elke oomblik van my lewe en dit is lekker! Al is ek tannie vir almal. Solank die jonkheid van gees daar is, glo ek nie is daar enige fout mee nie en is dit lekker om saam met my susters en broer se kinders te kuier.
Wat dit nog die lekkerste maak is die feit al is daar nog donker agter my en onopgeloste sake, oorskadu die lewenslus al daardie donker en geniet ek die vryheid waarin ek kan doen wat ek wil, wanneer ek wil en soos ek wil sonder om aan enige iemand rekenskap te gee behalwe aan my Skepper.
Die swaarkry is nog daar, maar daar is soveel mooier dinge nou aan die gebeur in my lewe wat daarvoor vergoed. 'n Mens kom dan ook tot die besef dat groot dinge, mooi dinge nie meer belangrik is nie, maar die kleiner dingetjies waarin vreugde en blydskap le. Die dinge waarin ons Vader Hand is en voorsien. Die natuur, ons werk, ons gesondheid, ons kinders en alles wat daarmee gepaardgaan.
Hiermee wil ek vir elkeen net die mooie toewens. Ons Skepper voorsien in alles, al lyk dit nie altyd so nie. Ja, daar is nog baie om te leer en te ervaar. Om vry te wees is om vry te wees van die dinge wat 'n mens gekniehalter en vasgehou het. Die dinge wat jou gekeer het om jouself uit te leef, maar bowen alles, die dinge wat jou van jou Hemelse Vader verwyder het.
Want om vry te wees beteken om HOM in alles te ken, HOM in alles te vertrou en al jou hoop en bekommernisse en swaarkry op HOM te plaas.
Mag Sy seen en genade op u almal rus en Sy vrede met jul wees. Die vrede van HOM wat alle menslike verstand te bowe gaan.
Vrede vir almal! Aan God alleen die eer! Soli Deo Gloria!
Soli