Thursday, January 21, 2016

'n Brief aan my kinders

               
      Dierbare kinders,

Dit is met verlange en baie heimwee dat ek die brief aan julle opdra.

Die Here het ons  geseën met twee gesonde normale mensies, geweef in die moederskoot.
Die wonderlikste geskenk wat ‘n ouer kan ontvang.

Ons het dit nie altyd maklik gehad nie, maar werklike swaarkry het ons ook nie gehad nie. Die Here het altyd vir ons gesorg, net soos HY nou ook vir ons sorg. As ouers kon ons altyd voorsien in julle behoeftes en gee wat julle nodig gehad het.

Ons het julle in geloof en liefde grootgemaak om in respek en verantwoor-delikheid op te tree, nie net teenoor julself nie, maar ook teenoor jul medemens. Ons as ouers was en sal  nooit volmaak wees nie en daarom ons bes probeer om vir julle ‘n voorbeeld te kon stel.

Op skool het julle geskitter en kon mense nie uitgepraat raak oor  twee prag blomme wat altyd hul medemens met die grootste respek hanteer het en glo julle vandag nog doen. Wat ‘n trots en sieraad was dit nie vir ons as ouers nie. Ons het heeltyd gepronk en uit ons nate gebars van trots.

Totdat.....totdat die duiwel ons wingerd begin verniel het. Toe ons in geloof begin faal en aan wêreldse dinge begin toegee en meegee, het ons getuimel en bly tuimel totdat ons nessie uitmekaar geruk is. Ons as ouers het ons kinders gefaal en was onherstelbare skade aangerig.

Die egskeiding en dood het ons ingehaal en ons verder uitmekaar laat spat. Verliese van eiendom, besittings en finansiële nood het dit vererger. Ten spyte van diepe hartseer het julle sterk bly staan. Julle het verwerping ervaar totdat die Hemelse Vader ingegryp het om mense op jul weë te plaas. Na maande se trauma verwerking en wroeginge het jul staande gebly en geleer om mislukkings te oorkom en suksesse te bereik.

Hereniging en samesyn het ons weer nader aanmekaar gebring met meer waardering en begrip vir mekaar. Nou is julle volwasse persone, elkeen met sy eie uniek wees. Terugslae het julle nie van stryk gebring om aan te hou probeer, vas te hou in geloof, hoop en liefde nie.
Julle is geseën met ‘n werk, gesondheid en mense om julle wat omgee en bowenal die geskenk van ‘n seun en kleinseun.

Tegnologie oorbrug afstand, begrip vir omstandighede gaan gepaard met geduld en liefde na die uitsien en brandende verlange van werklike samesyn.

Mag God se liefde, vrede en seën met julle wees. Vir julle berusting bring waar julle is en in alles wat julle doen.


Met verlangende liefde

Mamma 21/1/2016

Tuesday, September 17, 2013

Tyd vir 'n Nuwe Baadjie

Dit het tyd geword vir 'n nuwe baadjie, in 'n ligter kleur en 'n ligter luim. Hierdie woes ernstige sake en morbiede gedagtes en idees is goed maar kan ook nie vir ewig duur nie. ........ die woordjie "maar", "maar?"  het iemand eendag iewerste gese wanneer 'n mens "maar" begin gebruik is die duiwel alweer aan die werk. Nou hoe gebruik mens 'n sin in meeste gevalle sonder die woordjie "maar"? Dit is moeilik.

Met die somer op hande en die reuk van reen kan dit nie anders as om 'n vrolike opgeruimde atmosfeer te skep nie. Dit het tyd geword vir blydskap, vrolikheid en nuwe lewenslus. Ai, hoe wonderlik is dit nie om te ontvlug in sorgvryheid van glimlaggies, rustigheid en vrede wat sommer alle spanning laat wegspoel met 'n verfrissende vars bries in die lug nie.

Dan word dinge soos om jou te verknies oor mense wat van jou hou en nie van jou hou nie 'n vae herinnering en verwydering uit jou lewe. Die lekkerte weer van huismense te groet soggens en saans, te lag en te gesels in vrede en rustigheid maak op vir al die donker van die verlede. Vooruitsigte van saam wees, saam doen vir solank as ons geleen word vir mekaar, bring soveel vreugde teweeg dat 'n mens sommer by al die swaar en lelik verby kyk.

Aanvaarding van ander is nou 'n bysaak, die denke van ander 'n bysaak en net om lief te he, vasgehou te word  is 'n Goddelike seen waarvoor daar ewige dankbaarheid sal wees. 'n Genade so groot wat enige mens verstom laat en weereens laat besef hoe Groot en goed ons Hemelse Skepper en Vader is in  Sy ewige Raadsplan en boukuns met ons lewens.

Ook sal ons nie weer se nooit weer nie, want die waardering kom uit lesse van die lewe. Wanneer kinder glimlaggies jou begroet is die besluit klaar geneem om nie weer dieselfde foute te maak op 'n tweede kans, 'n nuwe geleentheid wat vir jou geskep word nie. Soveel waardering, soveel liefde is 'n absolute God gegewe genadegawe wat alle menslike verstand te bowe gaan. 

Daarom kan ons weer lag vir die lewe en weet dat niks of niemand ons meer kan seer maak nie. Niks of niemand ons meer op die grond kan trap nie en stap ons met 'n glimlag deur alle stormwaters met ons Heerser en Skepper aan ons hand. 

Hierdie vreugde, hierdie blydskap is doodeenvoudig net 'n groot wow! en word dit vir niks of niemand verruil nie. So gelukkig was ek lanklaas en weet ek diekeer gaan niemand in die pad daarvan staan nie. 'n Geskenk uit ons Vaderhand. 
Mooi  loop
ETS