Tuesday, November 20, 2007

Die hartseer, die pyn en einde van 'n era

Ja, so gebeur dit ook nou. Na 4 jaar se verwoestende baklei , gevloek, geskel en slegmaak het 'n 20 jaar oue huwelik op 'n einde gekom of altans is die einde besig om te gebeur. Wat die pad nou voorle en die toekoms nou inhou sal net vader tyd leer. Nog steeds is die slegmaak en seer nie verby nie, dit hou aan en kan ek net hoop dat my damwalle van bitterheid, woede en seer nie weer sal breek vir 'n derde keer nie. Dat my geduld wat huidiglik tot op die uiterste beproef word sal bly en nie weer die swakheid van my menswees na vore sal bring nie.

In al die tyd is my menswees doodgemaak, my geloof en vertroue het gekwyn en die pad na genesing onseker. Nog nooit was daar soveel seer, hartseer en bitterheid in my lewe soos nou nie. Danksy 'n dogter, familie en vriende hou ek my kop omhoog en probeer ek my trots behou en positief bly. Nog nooit was ek so platgeslaan teen die aarde soos in hierdie tyd nie. Ek is soos 'n dwalende gees wat maar net leef van dag tot dag tot die finale lui van die klok hoorbaar is. Dit is ook in die tyd wat die ware sy van die mens met wie ek voor Hom die belofte afgele het na vore kom, wie jou werklike vriende is en wie nie. Wie jou werklik bystaan en wie nie. Buiten dit alles staan ek nog steeds alleen buite die morele ondersteuning wat ek ontvang.

Dit was nie 'n maklike besluit wat geneem moes word nie. 'n Besluit waarmee 4 jaar al geworstel is en deur geredeneer was en die antwoord elke keer by dieselfde punt uitgekom het - dit is oor, verby, gedaan, dinge gaan nie verander nie...

Ek glo dit is nie wat ons Hemelse Vader wil he nie, dit immers stel Hy ook so in sy Boek en voorskrifte, dit is geweld, maar is geweld binne Sy beloftes nie maar ook net so erg nie? (Violation of Vows?) Maar beveel HY ons tog ook nie om met die sondige dinge te breek en Sy wee te volg soos HY wil nie? Met die dinge te breek wat ons in die afgrond inlei..

Tog is dit deesdae skokkend om te sien hoeveel huwelike na 'n dekade van 20 jaar die hoogste prys betaal en sy tol eis. Het dit nie tyd geword dat ons weer terugkeer na SY wil en beloftes en so geseend wees in die huwelikslewe nie? HY beveel ons tog om te breek met die dinge wat verkeerd is, hoerery, dronkenskap, geweld, sedeloosheid en so meer. Hoe kan iemand in so huwelik bly wanneer een party nie daarvan wil afsien nie? Maar tog het die saak ook twee kante. Ek staan ook nie onskuldig in alles nie, maar sodra ek begin om dinge te probeer regstel dan begin dit maar weer op die gewone ou trant aangaan tot daar weer 'n verskil kom en die bom dan bars. solank ek hom tevrede en gelukkig hou en dinge weer hul normale gang gaan is alles reg met hom, ongeag wat dit aan my innerlike behoeftes doen.

Trane is daar ja, baie.. die seerkry van die kinders, die ontwrigting, die te nakoming en eintlik, eintlik wat van ons vereis word is om verby dit alles op te kyk na HOM wat ons geskep het. HY wat ons deur beproewinge lei en blootstel om ons geloof en vertroue in HOM te toets. Dit is dan in die tye wat 'n mens besef hoe swak en nietig die mens werklik is. Niemand maar niemand kan en sal ooit verhewe wees bo HOM wat ons geskep het nie. HY wat alles is, in alles is, by alles is wat niemand meer wil raaksien nie.

Maar in ons menslike swakheid en klein geloof kan ons dit nie vermag nie. Is dit omdat ons nie wil of kan nie? Of is dit omdat ons nie meer bid en bely dat HY ons enigste Verlosser en Saligmaker is nie? Dat ons nie meer sy Woord wil hoor en lees nie? Dat vermaak en genietinge ons alledaagse lewe oorheers. Die soeke na rykdom en aansien ons so verblind dat ons nie meer SY Liefde en Genade ervaar of raaksien nie?

Al wat ek nog kan se is dat ek self stomgeslaan staan voor dit wat in my lewe gebeur het en aan die gebeur is. Dan vra 'n mens waar het dinge begin vekeerd gaan? Waar het 'n mens die pad byster begin raak? Dalk weet jy, maar wil dit nie erken of dit hardop uitspreek nie. Ek glo dit was die dag toe ek daardie duiwelse selfoon oproep ontvang het in 'n tyd wat die sataniste so bedrywig was. Ons weet almal van al die waarskuwings sms'e wat die rondte gedoen het teen die sataniste se bedrywighede. In my onkunde het ek gereageer op die oproep deur sekere syfers in te sleutel omdat "Telkom" sogenaamde lyn toetsings gedoen het. Te laat het ek besef dat die syfers wat ingetik was en die laaste siniese, vreesaanjaende gelag aan die einde die werk van 'n satanis was en dat Telkom nie lyntoetse doen op selfone nie. 'n Oproep wat my totaal en al onkant gevang het.

Daarna het sekere goed weer met my gebeur terwyl ek geslaap het. Aanvanklik het ek gedink ek het dit gedroom maar dit was so werklik dat dit my tot vandag toe pla. Die tekens was alles daar en mag hierdie werke van vervloeking van satan deur GOD ALLEEN vernietig word en die bose uit ons lewens verwyder word. Daarom gee ek aan GOD ALLEEN die eer, HY wat ons Skepper, Heerser en Verlosser is in hierdie aardse wereldse bestaan van bose werke wat die mensdom van HOM af wil weglei.

Mag ons, ons HEMELSE VADER vir ewig loof en prys vir SY weldade, liefde en genade wat hy altyddeur aan ons betoon. HY ALLEEN IS DIE ALFA EN DIE OMEGA, DIE BEGIN EN DIE EINDE, SKEPPER VAN ALLE DINGE. LOOF EN PRYS HOM! HY IS ONS ROTS, HOEKSTEEN, TROOSTER by wie ons die ewige vrede en rus kan vind wat alle menslike verstand te bowe gaan.

Mag ons almal weer hierdie troos, sielerus en vrede vind by ons Hemelse Vader soos Hy ons beveel wanneer die storms tot ruste kom en verdwyn.

Mag God's rykste seen met een almal van ons wees vir ewig en altyd.

Tot ons weer gesels. Die nuwe begin....

Soli

Saturday, January 27, 2007

'n Donker Donker Jaar


Dit is sowaar meer as 'n jaar terug wat ek my blog besoek het. Die tyd het so gou verby gegaan, maar met 'n baie donker jaar wat aanvanklik goed begin het, het dit donker donker geeindig en kon ek nie regtig weer my blog besoek nie. Nou is die eerste geleentheid in daardie baie lang pose.
Op besigheidsvlak dalk goed, maar op persoonlike vlak uiters donker. My huwelik het agteruit gegaan. Wanneer begin mens om te vergewe en te vergeet? Wanneer hou dinge op wanneer die ander party nie wil vorentoe kyk nie? So erg het dit gegaan, dat ek op die vlak is waar ek glo my hele menswees, my vertroue en geloof in God taan. Dit na alles wat ek voorheen op my blog gese het?...
Hoe stop mens alles? Hoe vergewe jy? Hoe neem mens die bitterheid, haat en hardheid van jou hart weg? Hoe kry jy weer lief as jou geloof en vetroue nie meer daar is nie? Ja dit is hoe sleg dit gaan. Nou nog - daar is net nie 'n einde nie. Hoe se 'n mens jy is jammer sonder om beskuldig te word van onegtheid, bybedoelinge en motiewe? Hoe se 'n mens jy aanvaar verantwoordelikheid en aanspreeklikheid wanneer jy beskuldig word van sarkasme? Hoe praat mens dinge uit as beide partye bly kwaad word vir mekaar en nie mekaar se sieninge wil aanvaar nie? Waar gaan alles eindig? Waar begin mens die fout by jouself soek?
Al wat ek dan nog vra is wat doen jy as jy jou geloof en vertroue in jou Hemelse Skepper verloor het? Het satan uiteindelik vermag wat hy wou? Kan enige mens maar net bly voortbestaan sonder emosie, gevoel en geluk?
Tog is daar so baie waarvoor 'n mens moet dankbaar wees, maar wanneer die donker die goeie oorskadu, kan ek nie help om te wonder of daar nog enige goed in hierdie wereld is nie. Dan vra ek Quo Vadis - waarheen?
Soli

Monday, November 21, 2005

My alles, my wese in een

Sedert ek laas hier geskryf het, het baie water in die see geloop. So swaarmoedig soos 'n mens maar kan raak so vol lewe en opgewondenheid kan daar ook wees.

Sedert ek laas hier so swaarmoedig was, gebeur daar so nou en dan ook iets wat weer lewe gee. Die ou jaar het vir my maar baie donker geeindig en weereens het HY in sy Voorsienigheid ook weer lewe en hoop gegee en het die jaar met spoed en hoogtepunte afgeskop, alles met SY genade en seen.

Dinge soos kinders se prestasies wat jou bors laat swel van trots, hul kwinkslae en manewalesse. 'n Besigheid wat oornag begin floreer, wat meer kan 'n mens vra?

Steeds bly daar ook die donker sy waar riviere stede oorstroom en damwalle breek en oorstroom, maar die oorstromings het niks met die werklike natuurrampe te doen nie. Dit is die innerlike strome van trane wat alles na die innerlike mens oorstroom. Die hartseer, die seerkry wat die ou jaar meegebring het. Die verlies aan geliefdes, die verlies aan persoon, individualiteit en die emosionele. Die seerkry van 'n vrou waar sy net moet wees. Moet wees in alles wat sy doen vir haar man, haar kinders.. net moet wees. Net moet wees vir God en Sy Wil, net moet wees vir ander, net moet wees ..... daar waar die vrou in haar nie tot uiting mag kom om ook haarself te kan wees nie.

Dan wonder ek as dit so in SY Raadsplan beskik is, Sy doel met die vrou is, dan moet 'n mens maar net wees...
Die damwal het gebreek,
Haar trane het oorstroom
Na binne - onsigbaar
Van hul wat haar oorstroom
Gestroop van emosie
Gestroop van individualiteit
Gestroop van menswees
Soos oorblyfsels na die vloed
Is sy maar net om te wees..

Soli



Thursday, November 10, 2005

My dagboek, my ontladingspunt, my alles...


Wanneer 'n mens skryf, wonder 'n mens dikwels waar om te begin. Veral as die bladsy se naam is "Get rid of Grudges" (raak ontslae van alle wraakgevoelens, emosies, ens. Maar waar begin 'n mens? Goeie vraag...

Ons ou wereld is vandag so deurmekaar, vol chaos en eiewys. Wanneer jy 'n terugblik gooi op jou self van kleintyd af tot waar jy vandag is en deur alles wat 'n mens moes gaan om te kom waar jy is vandag, dan moet daar mos 'n baie Groter Mag as ons wees om ons deur alles te kon dra. En ek dink dit is dalk die boodskap wat ek hier wil oordra

Ons is so geneig om almal en alles om ons die skuld te gee. Te manipuleer en te intimideer, maar hoe kyk ons na ons self. Is jy die arrogante een of die gewillige slaaf of die een wat nooit foute maak nie. Hoe verwerk mens al die terugslae, teenspoed en voorspoed in die lewe?

Vir my is daar net een antwoord en dit is deur te glo. Te glo in HOM wat hemel en aarde geskape het. Vas te bly in die geloof, hoop en 'n vaste vertroue in HOM met die oog op die toekoms wat reeds vir ons uitgespel is. Waarom vashou aan die aardse dinge? HY het ons tog verlos van alles wat boos en onrein is. Hoekom wanhoop jy dan nog?

Glo in HOM, Vertrou op HOM en HY sal jou die weg en die waarheid aanwys.

Net 'n klein bietjie van myself. Ek was eens ook 'n mooi jong meisie met baie ideale en drome waarvan soveel geleenthede verspil was en verkeerde besluite geneem was. Jy raak verlief, verloor daardie "groot liefde" in jou lewe en trou met die "eerste" en "beste" man wat jou dan skielik geval. Maar nooit sal jy daardie een liefde in jou lewe vergeet nie. Jul verloor kontak en op 'n dag spoor jy hom op (hy sowat 1500km van jou af), en met 'n jaloerse besitlike man, mag of kan jy nie vriende wees nie. Is dit nie tog waaroor naaste liefde gaan nie?

Ek gun my vriend sy gesin, sy plaas en veral voorspoed en seen wat hy seer sekerlik meer geniet as ek. Dalk is ek nou stompsinnig om te dink dat daar nie ook vir my ook soveel seen en voorspoed was/is nie. Tog is ek geseen met 2 pragtige, gesonde, normale kinders. 'n Man wat omgee en so vir sy gesin wil sorg dat hy die versorging van sy gesin (geestelik en emosioneel) verwaarloos het. 'n Man wat gemanipuleer en intimideer het, wat sy gesin sielkundig kan afkraak en tog jou so intimideer dat jy soos 'n skoolkind voel wanneer hy met jou praat en jou laat skuldig voel.

Dan vra ek myself af, was dit die 19jaar werd? Dan verwys ek weereens na my inleidings gedeelte - al wat my staande gehou en nog steeds hou is my geloof en vertroue in HOM wat ons gemaak het. HY is die voleinder en beskikker van Alle Dinge.

Groete

Tot ons weer gesels

Soli