Friday, October 28, 2011

Wanneer Vrae Bly Knaag

Dit is nie nuwe vrae nie, dit is alledaagse, elke dag se vrae wat bly opduik na beproewinge, rampe, verhoudinge skeefloop, ens.

Dit is vrae wat onbeantwoord bly. Vrae wat sekerlik almal op ‘n stadium vra: hoekom, waarom, ek verstaan dit nie, waarom ek, wie is ek, wat waar en waarheen? Hoekom het dit gebeur? Hoekom plaas die Here hierdie dinge op my pad? Hoekom bly dit aanhou gebeur?


Die tipe vrae wat jou in jou geloof laat taan. Jou geloof in God laat twyfel en laat vervaag. Dit is dan wanneer ‘n doodsheid jou gemoed oorweldig en jy begin ronddobber soos ‘n kurkprop op ‘n stromende rivier.


Tye wat jy sukkel om jou geloof in God te behou, te wonder of Hy nog werklik daar is. Al weet jy jou verstand sê vir jou Hy is nog daar, Sy Woord is nog daar. Dan word dit al moeiliker om met Hom te praat, jy sukkel om te bid, jy sukkel om te bly glo en jy probeer nie meer om te verstaan nie.


Elke dag word maar net nog ‘n dag. Net nog ‘n dag om te werk, eet en slaap. Vreugde ontbreek, opgewondenheid ontbreek na die uitsien van ‘n gebeurtenis, onverstaanbaarheid skop in..alleenheid en eensaamheid. Jy kyk met dooie oë na die lewe, ‘n doellose, rigtinglose, dolleeg lewe wat niks meer vir jou inhou nie.


Dit voel vir jou asof die Here jou toelaat om net kortstondig met hartstog, blydskap en vreugde lief te hê en dan net om dit van jou weg te vat. Dan vra jy: hoekom dan Here? Hoekom?


Jy begin wonder hoekom die Here toegelaat het dat die persoon oor jou pad kom? Wat was die doel en nut daarvan as alles net so vinnig tot ‘n einde kom? Jy sukkel om jou menswees te herwin, jouself te vind, van jou voete af te kom. Sodra jy dink jy begin herstel gebeur dit weer en weer en weer....


Dan vra ek Here my God waar is U?!

Thursday, July 09, 2009

DIE LAASTE MAAL SO FINAAL

My laaste vorige inskrywing was 20 April 2009. Nooit het ek gedink dat my lewe 6 dae later so drasties sou verander nie. My eks man van 21 jaar het nog sy laaste epos aan my op 20 April gestuur en ek my laaste aan hom. Op 26 April 2009 het die Hemelse Vader dit behaag om hom van ons weg te neem.
Skielik was ek hierdie geskeide weduwee en het vir die eerste maal in my lewe nie geweet wat my te doen staan nie. Daar was soveel seerkry, soveel verbittering, soveel wrok en haat, soveel dinge wat verkeerd geloop het dan vra mens hoekom en waarom moes dit juis nou gebeur? Ons was presies 21 jaar getroud, 1 jaar vervreemd en 1 maand geskei, speel die ene dalk 'n rol? Hoe verwerk mens die dubbele trauma, eers die menslike skeiding en toe die skeiding van die dood - ons Hemelse Skeiding.

Hoe help jy jou kinders deur hierdie dubbele trauma gaan? Ek word maar net beskou as die geskeide vrou, maar verstaan mense werklik hoe dit my raak? Ek wonder baie en le baie nagte wakker oor hoekom moes dit nou juis so gebeur. Was ek destyds regtig so onredelik om 'n besluit te neem waarmee ek 4 jaar lank geworstel het? Wat was en is die doel van alles?
Mense verstaan nie altyd nie, selfs ek ook nie, ten spyte van al die lelik wat daar was, ten spyte van al die verskille en verkeerd, rou ek ook oor 'n maat wat nie meer daar is. Was daar dalk 'n boodskap in sy pleidooie aan my om terug te keer na hom? Was dit ons Hemelse Vader wat met my wou praat en ek nie wou luister?

Die seer sal seker nog lank duur en veral die kinders ly swaar. Skielik is daardie esktra heenkome, daardie ekstra inkomste, daardie ekstra aandag, vertroeteling en liefde nie meer daar nie. Tog wil ek hier ook my huldeblyk aan 'n pa, 'n vriend en eggenoot weer 'n keer weergee soos wat ek in die begrafnisbrief gedoen het en lui soos volg:
"Stephan, ek sal jou altyd onthou as iemand wat omgegee het vir almal wat jou lewenspad gekruis het - 'n omgee mens. Jou liefde vir jou medemens het geen perke geken nie. Jy was 'n pa, 'n vriend en eggenoot. Die mooi tye wat ons saam kon he sal my altyd bybly. Dankie vir 2 pragtige kinders waarop jy altyd trots kan wees. Rus in vrede."
Tot ons weer ontmoet, jou vrou en maat van 20 jaar.

Mag die Hemelse Vader vir ons nou die geleentheid gee om 'n nuwe begin te maak en nie weer dieselfde foute te begaan nie. Vooraf verhoudings te bou, die kinders by te staan en nuwe vriende te maak.

My boodskap aan iedere en elkeen wat hierdie blog mag lees is net dit: Vrouens wees lief vir julle mans en kinders, verdra hulle in hul swakhede, tekortkominge - wees net lief vir hulle al gaan dit hoe moeilik en moenie groen weivelde gaan soek waar dit nie nodig is nie.

So ook aan julle mans en kinders: Wees lief vir jul vrouens en ouers, verdra mekaar in jul swakhede en tekortkominge, praat met mekaar en deel met mekaar. Mans dra jul vroue op jul hande soos die Bybel jul beveel: "soos 'n seelring op jou hart". Moenie jul vrouens maar net as vanselfsprekend aanvaar nie. Moenie groen weivelde gaan soek waar dit nie nodig is nie. So ook vrouens aan julle mans en kinders. Wees 'n gesin en bou op die Bybelse fondament van liefde, geloof, vertroue en eensgesindheid.

Mag God u een en elkeen seen met SY liefde, genade, geloof, vertroue, geduld en verdraagsaamheid.
Soli



Monday, April 20, 2009

DIE VERSUGTING

Hierdie wil ek laat aansluit by my vorige blog van "OM VRY TE WEES".
Vandag besef ek eers hoe vry 'n mens werklik kan wees. Terwyl 'n mens nog steeds die vernedering van slegse moet verdra en verduur ten spyte dat alles nou verby is, weet ek dat ek nou veilig kan gaan rus en voel in my Hemelse Vader se warm omhelsing.
HY is al een wat ken en weet en by wie daar volle vertroue is. Hy is al een wat geen mens ooit in die steek sal laat nie. Die wete dat HY my kalm hou, my rustig hou ten midde daarvan dat die lelike nou onlangs in my uitgelok was, weet ek, ek het SY vergifnis ontvang.
Mense praat, mense skinder, maar dit word hul vergewe omdat hul nie van beter weet nie. Omdat hul net insig in hul eie toon sonder om die ware feite te wete te kom. Daarom wil Soli vandag aan almal daar buite se ek is lief vir julle almal of jul van my hou al dan nie of jul my ken al dan nie en of jul dink ek is baie morbied - al dan nie. Daarom wil ek ook vir jul se vrede vir julle met 'n opregte hart.
Die wat dit wil glo, glo dit, die wat nie wil nie mag SY seen op jul rus en jul vrede en rustigheid in SY omhelsing vind. Psalm 23, Psalm 128.
Mag SY genade en vrede ons almal omvou.
Groete
Soli

Thursday, September 04, 2008

Om Vry Te Wees

Nou die dag sit ek so en ek lees deur al my stukke wat ek al hier geskryf het. Skielik kom die besef by my op hoe neerdrukkend en tog werklik al hierdie dinge is wat in my gemoed aangegaan en omgegaan het en wat met my gebeur het.
Uiteindelik het ek ook tot die besef gekom dat ons Hemelse Vader 'n pad met my gestap het en nog steeds stap. Hy het my losgemaak van die dinge wat agter my is. Die slegte dinge, die verkeerde dinge, al die dinge wat die lelike in 'n mens na vore kan bring.
Vir my is dit asof ek nou 'n nuwe lewe begin ontdek. 'n Lewe waarin ek myself kan wees, myself kan uitdruk en net simpel kan wees met tye, sonder dat iemand snaaks dink daaroor of my berispe daaroor dat dit nou nie eintlik by my ouderdom pas nie. En wat 'n wonderlike gevoel is dit nie! Uiteindelik is daar mense wat my aanvaar vir wie ek is, vir wat ek is en vir wat ek doen. Ek kan my eie idees uitleef sonder om te wonder of dit dalk verkeerd mag wees.
Al is my jare nou effe hoog en almal my nou al "tannie" noem, is dit vir my nogals vleiend, want sien, toe ek jonger was het ek nie die voorreg gehad om myself te geniet soos wat elke individu veronderstel is om te kan doen sonder om aan ander aanstoot te gee of berispe te word of te doen soos ander dit gedoen wil he nie. Ek geniet nou elke oomblik van my lewe en dit is lekker! Al is ek tannie vir almal. Solank die jonkheid van gees daar is, glo ek nie is daar enige fout mee nie en is dit lekker om saam met my susters en broer se kinders te kuier.
Wat dit nog die lekkerste maak is die feit al is daar nog donker agter my en onopgeloste sake, oorskadu die lewenslus al daardie donker en geniet ek die vryheid waarin ek kan doen wat ek wil, wanneer ek wil en soos ek wil sonder om aan enige iemand rekenskap te gee behalwe aan my Skepper.
Die swaarkry is nog daar, maar daar is soveel mooier dinge nou aan die gebeur in my lewe wat daarvoor vergoed. 'n Mens kom dan ook tot die besef dat groot dinge, mooi dinge nie meer belangrik is nie, maar die kleiner dingetjies waarin vreugde en blydskap le. Die dinge waarin ons Vader Hand is en voorsien. Die natuur, ons werk, ons gesondheid, ons kinders en alles wat daarmee gepaardgaan.
Hiermee wil ek vir elkeen net die mooie toewens. Ons Skepper voorsien in alles, al lyk dit nie altyd so nie. Ja, daar is nog baie om te leer en te ervaar. Om vry te wees is om vry te wees van die dinge wat 'n mens gekniehalter en vasgehou het. Die dinge wat jou gekeer het om jouself uit te leef, maar bowen alles, die dinge wat jou van jou Hemelse Vader verwyder het.
Want om vry te wees beteken om HOM in alles te ken, HOM in alles te vertrou en al jou hoop en bekommernisse en swaarkry op HOM te plaas.
Mag Sy seen en genade op u almal rus en Sy vrede met jul wees. Die vrede van HOM wat alle menslike verstand te bowe gaan.
Vrede vir almal! Aan God alleen die eer! Soli Deo Gloria!
Soli

Tuesday, August 12, 2008

Om Alleen Te Wees


Vanoggend word ek vroeg wakker (so om en by 04:00) met die liedjie Amazing Grace wat in my kop draai. Ek begin dit neurie, staan toe op, maak koffie en gaan weer rustig le totdat my radio alarm afgaan. Altans het ek die alarm wakker gemaak....

Ek le toe nou soos maar altyd in die afgelope paar maande en terug dink. Skielik kom die woorde van Psalm 23 by my op en wonder ek hoekom het die onderwysers dit altyd by ons as kinders ingedreun. Ek het toe nie verstaan nie, want dit was maar net nog 'n Psalm, selfs ook nie op 'n latere tyd in my lewe nie. Noudat ek ouer word weet ek dat dit eintlik 'n Psalm is vir vertroosting, rus soek en vrede in Sy Arms wanneer die storms dreig en onrustigheid mens beetpak. Dit is 'n Psalm waar jy vrede kry, troos kry met die wete dat Hy jou altyd vashou en teen alles sal beskerm. Die foto hierby het ek met opset so gekies, want dit is waaraan Sy rustigheid my laat dink, daar waar rus, stilte en vrede is.

Iemand het eendag net voor hy selfmoord gepleeg het, die Psalm gereeld gelees. Vandag wonder ek, en dit is nou sonder om te oordeel of te veroordeel, of die persoon werklik geweet het of besef het dat dit eintlik 'n Psalm is waarin 'n mens in tye van alleenheid en verlatenheid, troos kry. God se versekering dat HY jou nie alleen laat nie. In tye wanneer jou vriende en familie jou verlaat het en teen jou opstaan, dat HY ALTYD DAAR IS VIR JOU.

Nou weet ek, ten spyte van my alleenheid, GOD daar is vir my. Met of sonder my foute en verkeerd in my lewe. Laasnag was die gevoel daar dat ek "dood" is en ek dit nie verdien om my voor my Skepper neer te buig nie. Weereens was HY DAAR! Vir my, vir elkeen wat Hom nodig het, ons moet net bly soek, HY is altyd daar ons is nooit alleen nie.

Orals in Sy Woord gee Hy die versekering ons hoef nie bang te wees vir enige gevare wat dreig of mense wat teen ons opstaan nie. Ons moet net na Hom luister en doen wat HY vra. Selfs al vra Hy van jou om jou gesin en familie te verlaat.. Sal jy dit doen? Elders in die Skrif, daar in Lukas iewerste, se Jesus vir sy dissipels: "Jul het my gevolg sonder skoene, sonder reissak, sonder kos....Het julle toe iets kort gekom?" en hul antwoord was: "Nee, niks nie Here..."

As ek dit dan nou so mag stel "after all" is dit nie so sleg om alleen te wees nie. Alleen wees is 'n tyd om te oordink, met God te verkeer, Hom weer te ontdek en te weet dat ons aardse besittings, vriende, familie maar net tydelik is en ons Hemelse rykdom en skatte vir ons wag.

Halleluja, loof en prys Hom!

Groete

Soli