Ek sit nou die eendag in die dokter se ontvangs lokaal en wag vir my man om uit die laser kamer te kom. So in die sit en wag, eintlik het ons in die gangetjie gesit en wag, kom ‘n ma, dogter en ouma verby.
Die ma is ietwat aan die lang kant, dan die dogter
effens korter en so treetjie agter die ma, die bejaarde statige ouma.
In die verby gaan vang my oog die bejaarde tannie se
hand in die groot sterk jong hand van haar dogter. (Ekself het so pas my
pensionaris jare betree). Ek staar my vas teen die treffende prentjie van hierdie
jong hand wat die bejaarde hand vashou en besef hoe vinnig ons oud word.
Ten aanskoue van die mooi gebaar en sonder geen rede, raak ek net daar
bewoë en kry trane in my oë. So mooi prentjie van respek, omgee en liefde laat
my aan my eie oud word toekoms dink.
Terwyl ek nog sukkel om my trane in bedwang te bring,
kom my man uit die laser kamer en moet
ons weer terug na dokter se spreekkamer. Met ‘n gesukkel hou ek die trane terug
en met ‘n skor stem vra ek manlief hoe dit gegaan het met die laser prosedure.
Alles goed afgeloop antwoord hy en stap ons voort na dokter se spreekkamer.
So in die stap begin die vraag toe deur my kop maal. Met
my eie kinders en kleinkinders wat so vêr van my af woon, vra ek myself: my kind sal jy my hand ook eendag vashou in
joune, soos ek joune vasgehou het toe jy
begin loop en rond hardloop het? Sal jy dit vir my ook doen my kind?
Sal jy …….?
Etrecia
No comments:
Post a Comment