My liefste
Rayden,
Ek skryf vandag hierdie ope brief met die grootste liefde en deernis aan jou. Ouma hoop en bid dat jy eendag hierdie sal kan lees en verstaan waarom jy my nooit geken het nie en wie die vervreemding meegebring het.
Ouma skryf vandag hier vir jou na 'n baie baie lang tyd. Nie
omdat ek nooit aan jou dink nie, maar omdat ek soms net voel alles is
tevergeefs. Nie net dink ek elke dag aan jou nie, maar ry ek ook sovele kere by
jou skool en huis verby en wens ek kon net ingaan om vir jou hello te sê, en om jou ‘n
drukkie te kan gee.
Soveel kere wens ek, ek kon by jou sport wees, skool byeenkomste
ensovoorts wees. Telkemale probeer ek om inligting omtrent jou aktiwiteite te bekom, maar elke keer beland ek in 'n doodloop straat. Nooit vergeet ek jou verjaarsdag nie, al het ek ‘n paar keer
gemis om vir jou ietsie te skryf met jou verjaardag, want sien jou verjaardag val op dieselfde dag as jou oorlede oupa Stephan s'n en toevallig vandag 9 Mei sou ons huweliks herdenking gewees het, as dinge nie vir ons verkeerd geloop het nie.
Ongelukkig word ek van jou af weggehou en verbied om jou te sien
vir welke rede ookal. Soms wens ek, ek het geweet wat vir jou vertel word van
jou bloed ouma Etrecia, jou familie aan pappa se kant. Jou eie pappa het my
verbied om jou te sien.
Tot vandag toe weet ek nie wat die rede hiervoor is nie, Dit nadat
ons in 2018 ontmoet het en ek by jou grade plegtigheid was. Soos ek hier tik,
is jy nou al 10 jaar oud en word jy September 2023 11 jaar oud.
Jou ma se rede is sy hou nie van my nie, wat jou pa se
beweegrede was weet ek nie. Ouma mis jou en al my ander klein kinders. Jou
nefie en niggie in Namibië ken my darem en weet wie ek is.
Ek sou so graag wou weet of jy rugby speel, krieket speel en wat
jy van hou. Sou so graag jou net vir ‘n dag of twee of selfs ‘n naweek by my
wou hê. Ongelukkig het jy ‘n ouma Linda Theron, mamma Jean-Marie Theron en
pappa Stephan van der Westhuizen wat weier dat ek kontak met jou moet hê.
Ek het al ‘n regsaksie begin toe ek skielik in 2018 toegelaat
was om jou te sien en dit toe laat vaar, net om weer uit die bloute geweier te
word om jou te sien.
Jy sien Rayden, ek was die Januarie 2019 by een van jou atletiek
byeenkomste toe jou ouma Linda jou ma bel, by die skool opdaag en jy summier
van my af weggehou is sonder dat ek deel kon word van jou. Die rede: “Ouma Etrecia verwar jou” net daarna het
pappa my verbied om ooit weer by een van jou byeenkomste op te daag. So weier
die skool ook om enigsins enige iets van jou vir my mee te deel.
Rayden, jy moet weet, ek wil en wou so graag ook ‘n ouma vir jou
wees, maar ek word nie toegelaat of is nooit toegelaat om dit vir jou te kon
wees nie.
Hopelik sal jy eendag, wanneer jy groter is, die vrae aan jou
ouers en ouma Linda kan vra. Hopelik sal hulle vir jou die regte redes kan gee,
wat ek tot nou toe nie weet wat dit is nie. Duidelik is dit van my kant af
onverstaanbare redes en was ek nooit onredelik of ontoeganklik vir besoeke aan
jou of jou ouers aan my nie.
Jy word toegelaat om vreemdes te leer ken, ‘n oom wat nie eers
jou bloed oupa is nie, oupa te noem, Ja ouma Linda se vriend en waarmee sy loop
en spog het dat jy hom nou al oupa noem.
Jy mag by vreemdes gaan kuier, bly, gesels en sosialiseer, maar ouma Etrecia is
verbode.
Rayden ek kan net glo en vertrou dat ons paaie eendag sal kruis
voor ek my kop neerlê. Hopelik sal ek jou kan leer ken wanneer jy al die dinge
sal bevraagteken en in ‘n mooi jong man verander het. Hopelik sal ons nog saam kan
lag en ‘n bietjie pret kan hê.
Mag jy ‘n mooi en vol lewe hê Rayden al ontmoet ons mekaar nie.
Mag jy nie dieselfde foute maak wat jou ouers gemaak het nie. Mag jy ‘n vol
geloofslewe lei met respek en liefde vir ander. Mag jy ‘n lewe lei sonder bitterheid
en wrok teenoor ander.
Ouma wens vir jou net dit wat mooi en goed is toe vir die
toekoms. Ek gaan probeer om met elke verjaardag van jou 9 September elke jaar ,
hier vir jou ietsie te skrywe en ‘n afdruk daarvan vir jou na te laat.
Mooi gaan
09 Mei 2023
No comments:
Post a Comment