Monday, May 15, 2023

VIR RAYDEN

 My liefste Rayden,

Ek skryf vandag hierdie ope brief met die grootste liefde en deernis aan jou. Ouma hoop en bid dat jy eendag hierdie sal kan lees en verstaan waarom jy my nooit geken het nie en wie die vervreemding meegebring het.         

Ouma skryf vandag hier vir jou na 'n baie baie lang tyd. Nie omdat ek nooit aan jou dink nie, maar omdat ek soms net voel alles is tevergeefs. Nie net dink ek elke dag aan jou nie, maar ry ek ook sovele kere by jou skool en huis verby en wens ek kon net ingaan om vir jou hello te sê, en om jou ‘n drukkie te kan gee.

Soveel kere wens ek, ek kon by jou sport wees, skool byeenkomste ensovoorts wees. Telkemale probeer ek om inligting omtrent jou aktiwiteite te bekom, maar elke keer beland ek in 'n doodloop straat. Nooit vergeet ek jou verjaarsdag nie, al het ek ‘n paar keer gemis om vir jou ietsie te skryf met jou verjaardag, want sien jou verjaardag val op dieselfde dag as jou oorlede oupa Stephan s'n en toevallig vandag 9 Mei sou ons huweliks herdenking gewees het, as dinge nie vir ons verkeerd geloop het nie.

Ongelukkig word ek van jou af weggehou en verbied om jou te sien vir welke rede ookal. Soms wens ek, ek het geweet wat vir jou vertel word van jou bloed ouma Etrecia, jou familie aan pappa se kant. Jou eie pappa het my verbied om jou te sien.

Tot vandag toe weet ek nie wat die rede hiervoor is nie, Dit nadat ons in 2018 ontmoet het en ek by jou grade plegtigheid was. Soos ek hier tik, is jy nou al 10 jaar oud en word jy September 2023 11 jaar oud.

Jou ma se rede is sy hou nie van my nie, wat jou pa se beweegrede was weet ek nie. Ouma mis jou en al my ander klein kinders. Jou nefie en niggie in Namibië ken my darem en weet wie ek is.

Ek sou so graag wou weet of jy rugby speel, krieket speel en wat jy van hou. Sou so graag jou net vir ‘n dag of twee of selfs ‘n naweek by my wou hê. Ongelukkig het jy ‘n ouma Linda Theron, mamma Jean-Marie Theron en pappa Stephan van der Westhuizen wat weier dat ek kontak met jou moet hê.

Ek het al ‘n regsaksie begin toe ek skielik in 2018 toegelaat was om jou te sien en dit toe laat vaar, net om weer uit die bloute geweier te word om jou te sien.

Jy sien Rayden, ek was die Januarie 2019 by een van jou atletiek byeenkomste toe jou ouma Linda jou ma bel, by die skool opdaag en jy summier van my af weggehou is sonder dat ek deel kon word van jou. Die rede:  “Ouma Etrecia verwar jou” net daarna het pappa my verbied om ooit weer by een van jou byeenkomste op te daag. So weier die skool ook om enigsins enige iets van jou vir my mee te deel.

Rayden, jy moet weet, ek wil en wou so graag ook ‘n ouma vir jou wees, maar ek word nie toegelaat of is nooit toegelaat om dit vir jou te kon wees nie.

Hopelik sal jy eendag, wanneer jy groter is, die vrae aan jou ouers en ouma Linda kan vra. Hopelik sal hulle vir jou die regte redes kan gee, wat ek tot nou toe nie weet wat dit is nie. Duidelik is dit van my kant af onverstaanbare redes en was ek nooit onredelik of ontoeganklik vir besoeke aan jou of jou ouers aan my nie.

Jy word toegelaat om vreemdes te leer ken, ‘n oom wat nie eers jou bloed oupa is nie, oupa te noem, Ja ouma Linda se vriend en waarmee sy loop en spog het dat jy hom  nou al oupa noem. Jy mag by vreemdes gaan kuier, bly, gesels en sosialiseer, maar ouma Etrecia is verbode.

Rayden ek kan net glo en vertrou dat ons paaie eendag sal kruis voor ek my kop neerlê. Hopelik sal ek jou kan leer ken wanneer jy al die dinge sal bevraagteken en in ‘n mooi jong man verander het. Hopelik sal ons nog saam kan lag en ‘n bietjie pret kan hê.

Mag jy ‘n mooi en vol lewe hê Rayden al ontmoet ons mekaar nie. Mag jy nie dieselfde foute maak wat jou ouers gemaak het nie. Mag jy ‘n vol geloofslewe lei met respek en liefde vir ander. Mag jy ‘n lewe lei sonder bitterheid en wrok teenoor ander.

Ouma wens vir jou net dit wat mooi en goed is toe vir die toekoms. Ek gaan probeer om met elke verjaardag van jou 9 September elke jaar , hier vir jou ietsie te skrywe en ‘n afdruk daarvan vir jou na te laat.

Mooi gaan

Liefde Ouma Etrecia     

 
                

09 Mei 2023                                      


Monday, February 27, 2023

My kind sal jy....?

 


Ek sit nou die eendag in die dokter se ontvangs lokaal en wag vir my man om uit die laser kamer te kom. So in die sit en wag, eintlik het ons in die gangetjie gesit en wag, kom ‘n ma, dogter en ouma verby.


Die ma is ietwat aan die lang kant, dan die dogter effens korter en so treetjie agter die ma, die bejaarde statige ouma.

In die verby gaan vang my oog die bejaarde tannie se hand in die groot sterk jong hand van haar dogter. (Ekself het so pas my pensionaris jare betree). Ek staar my vas teen die treffende prentjie van hierdie jong hand wat die bejaarde hand vashou en besef hoe vinnig ons oud word.

Ten aanskoue van die mooi gebaar en sonder geen rede, raak ek net daar bewoë en kry trane in my oë. So mooi prentjie van respek, omgee en liefde laat my aan my eie oud word toekoms dink.

Terwyl ek nog sukkel om my trane in bedwang te bring, kom my man  uit die laser kamer en moet ons weer terug na dokter se spreekkamer. Met ‘n gesukkel hou ek die trane terug en met ‘n skor stem vra ek manlief hoe dit gegaan het met die laser prosedure. Alles goed afgeloop antwoord hy en stap ons voort na dokter se spreekkamer.

So in die stap begin die vraag toe deur my kop maal. Met my eie kinders en kleinkinders wat so vêr van my af woon, vra ek myself:  my kind sal jy my hand ook eendag vashou in joune,  soos ek joune vasgehou het toe jy begin loop en rond hardloop het? Sal jy dit vir my ook doen my kind?

 

Sal jy …….?

 

Liefde ma en ouma                

Etrecia

Sunday, September 08, 2019

Geluk Rayden

Sewe jaar terug is my oudste kleinseun gebore. In sewe jaar kon ek jou bitter min te siene kry of jou leer ken. Tot nou toe word my kontak met jou vir een of ander duistere rede geweier. Ouma hou jou geskenkies vir jou tot jy groot genoeg is om self agter die kap van die byl te kom.  Ouma wil vandag vir jou sê Rayden, mag jy môre ( 9/9/2019) 'n baie mooi geseënde verjaardag geniet. Mag ons Hemelse Skepper jou op jou lewenspad vergesel. Liefde ouma Etrecia.

Tuesday, June 18, 2019

Die Waarheid

 Die waarheid is, (nie soos in Schalk Bezuidenhout se nare waarheid van TV faam nie, maar mens kan dit seker maar daaraan koppel, afhangende hoe jy dit interpreteer.) dat jy nie die volle waarheid vertel word soos dinge gebeur nie om jou sogenaamd teen slegte "elemente" te "beskerm".

Jy sien Rayden, ouma probeer haar bes om deel van jou lewe te wees. maar word ouma elke keer geweier om met jou kontak te he of 'n band te bou omdat grootmense verskille het en sogenaamd "seergemaak" voel en hul ego'tjies seergekry  het. Nou hou hulle sekere dinge van die verlede teen jou ouma aan pappa se kant so asof hulle sonder foute en swakhede is.

My kind, ek was al met vele byeenkomste by jou skool, ongelukkig kon ek jou nie te siene kry nie omdat jy op 'n baie subtiele wyse van ouma af weggehou word. Jy word toegelaat om met vreemdes te kommunikeer, maar jou eie bloed ouma aan pappa se kant is streng verbode. Hopelik as jy eendag beter kan verstaan en groter is sal die verbod aan jou verduidelik word.

Jy sien, volgens jou ma en jou pa se vrou is ek die ouma wat gedurig loop en vloek en skel. Ongelukkig is die tannie wat so erg gevloek en geskel het wat oorkant die pad van ouma bly, so twee weke gelede oorlede. Nou dit is maklik vir mense om op ander se swakhede en foute te ry en verby hulle eie sondes te kyk en ander te oordeel. Jy sien, Rayden, wanneer grootmense kwaad word, raak hul soms buite hulself van woede as gevolg van frustrasies en magteloosheid van mense wat nie hul lewensomstandighede wil verander met die hulp van ander nie. Hulle sal eerder op ander "teer" en ander uitbuit of so lewe dat hulle jammer gekry word en dan ander se goedheid misbruik.

Sulke mense sien selde of ooit die verandering raak wat in 'n ander persoon plaasvind en is nie bereid om van die verlede weg te beweeg en 'n beter toekoms tegemoet te gaan nie.

Rayden al wat ouma vandag vir jou kan se is, dat ek jou gevolg het van baba tyd af, van die dag van jou geboorte af toe ek jou in my arms gehou het. Daarna is ons vervreemd en het mamma geweier om enige kontak te he. Al was dit dan net op gesteelde foto's, het ek jou grootword gevolg. Selfs die kort rukkie toe ek jou kon ontmoet in pappa se teenwoordigheid na 6 jaar en wat my vir 'n wyle toegelaat was entoe weer kortgeknip is as gevolg van groot mense se "seergemaakte" gevoelens en onvergewinsgesindhede.

Ryaden my kind, ek kan net hoop en bid dat jy eendag die volle waarheid en net die waarheid sal uitvind. Ten minste het ek die gemoedsrus dat jy wel van my bestaan bewus is en wanneer jy eendag groot genoeg is, die moed van oortuiging sal he om my te soek waar ek my dan ookal mag bevind om  my kant van die saak te hoor. Rayden, jy sal altyd in my gedagtes wees, want sien tans bly jy 'n paar minute van my af, nog steeds is my versoeke om besoek aan jou verbode. Soos ek hier skryf is jy tans in gr. 1 en was ek wel toegelaat om jou in Januarie van die jaar te kon sien, let wel net sien. Ek was nie eers behoorllik toegelaat om net met jou te kon gesels nie. Wel groet ja, maar dit was al. Die skelm drukkie en vinnige gesprekkie wat ek van jou kon kry toe mamma haar rug draai tydens jul kaskardag, sal my altyd bybly en weet ek daar is tog 'n band, maak nie saak hoe vervreemd ons van mekaar is nie.

Jou aktiwiteite is nie aan my bekend nie, en moet ek maar raai waaraan jy deelneem en wanneer die skool sekere aktiwiteite aanbied, want selfs dit word van my weerhou.

Dit is my wens dat jy 'n mooi groot jong man sal word met integriteit, want ek weet jy is 'n intelligente seun wat eendag groot hoogtes gaan bereik. Sou ons mekaar dan nooit weer sien nie, weet net ek sal altyd lief bly vir jou. Jy is my oudste kleinseun van ses ander, maar jou plekkie sal altyd oopbly in ouma se huis en in ouma se hart.

Met baie liefde
Ouma Etrecia


Wednesday, February 20, 2019

Wie luister vir wie?


 Ek het lank gewik en geweeg oor wat my volgende inskrywing sal wees. Met die inskrywing wat ek nou gaan maak, mag ek dalk op baie mense se tone trap - net 'n waarskuwing.  Ongelukkig is ek 'n baie reguit en op die man af individu. (Die dat ek seker nog nie grys hare het nie.) Ek hou nie van doekies omdraai of 'n opkroppery en 'n gepraat met frilletjies en valletjies nie. As iets my pla sê ek dit en kry klaar. Indien jy nie daarvan hou nie moet jy maar die skoen aantrek soos dit jou pas. Dit is maar net eenmaal hoe ek is.
 Die jonger geslag voel erg verontreg, vernederd  en "seer gemaak" wanneer hul met die waarheid gekonfronteer word of wanneer 'n mens jou stem begin verhef (soos hulle dit noem op hulle skree). Soos in die onlangse voorval ja, maar ek het spesifiek daarop gelet dat ek nie skelwoorde gebruik nie. Dus indien jy "heilig" is en nie soms 'n skelwoord laat val of selfs jou stemmetjie verhef nie, draai terug na die spieel en gaan kyk eers daarin. Indien jy my nie kan aanvaar soos ek is en wie ek is vir wat ek is nie, gaan kyk weer in die spieel.  Dit is my motto in die lewe om mense te aanvaar vir wie en wat hulle is en nie te oordeel nie omdat ekself nie vry is van foute maak in my lewe nie. Dus as jy my nie kan aanvaar nie, moet dan nie eers probeer om my vertroue te wen nie.

Dit is goed vir kinders om hul stemme te verhef en hulself op te ruk wanneer dinge nie volgens hulle weg gaan nie. As ouer moet jy maar net stilbly, aanvaar en saam hul beweeg - ongeag.

Vandag se ouer garde / ouers moet luister na dit wat die kinders se opdragte is en wat jy as ouer moet doen. Omgekeerd kan dit nie meer plaasvind nie. Sodra die ouer weier om aan kinders se eise te voldoen, is jy aan die verkeerde kant en word alles wat in die verlede gebeur het teen jou gebruik of sekere situasies omgeswaai om teen jou te gebruik. Soos wanneer geborsvoed word terwyl daar gedrink en gerook word, sterk kosse geeet word en die kleintjie heel week aan die skree gaan en word ouma daarvoor geblameer omdat ouma so "skel en skree". So word alles verdraai.

En o ja, moenie vergeet nie, as die kinders mors en teer op ma en pa se geld, kos en gasvryheid, moet die ouer verseker dat jy die een is wat agterna gaan skoonmaak en in die skuld gedompel gaan word of sekere dinge gaan moet prysgee om kinders tevrede te hou. Die proses van skuld hersiening "debt review" word as verskoning en skild gebruik om nie vorentoe te kan beweeg of omstandighede word gebruik om nie 'n werk te kan kry nie. So word sekere verpligtinge ontduik. Solank ma en pa ge"melk" kan word om te voorsien in finansiële behoeftes is  alles honkey kedonkey dorie. Asseblief ouers moet dit net nie begin teenstaan  nie dan is jy die vark in die verhaal. Dus wie luister nou vir wie? Wie is die ouer en wie is die kind?
Ek is moeg om te wees soos ander my wil laat wees, ek is moeg om te doen soos ander my wil laat doen en dit hulle geval, ek is moeg om te spring wanneer kinders sê spring, ek is moeg om te luister wanneer kinders opdragte en bevele gee.Ek is moeg om verbied te word om my opinie te lig of dit so te lig sodat niemand in die proses "seergemaak" word nie. Ek is moeg vir lig geraakte mense wat alles swaai soos dit hulle pas. Wat het van die sogenaamde "vryheid van spraak" geword. Ouers onthou net, dit is net kinders wat mag en kan sê wat hulle wil, soos hulle wil en hoe dit hulle pas. Wie luister nou vir wie? 

Nou wil ek maar net sê, jammer dat ek is wat ek is, jammer dat ek jou seermaak, jammer dat ek in jou "pad" staan omdat ek nie wil doen soos jy dit wil hê nie, jammer dat ek ingemeng het, jammer dat ek op jou geskel het, jammer dat ek my huis vir jou oopgemaak het, jammer dat ek agter jou moes skoonmaak, jammer dat julle nie 'n bydrae in die huis gemaak het nie, jammer dat ek my deel in die samelewing gedoen het, jammer dat ek jou nie reg opgevoed het nie, jammer dat ek jou verontreg het,  jammer dat ek jou aanvaar soos jy is, jammer dat ek jou ma is en jammer dat ek die oorsaak is dat ek nie my kleinkinders mag sien nie, jammer dat ek nie 'n miljoenêr is wat alles vir jou kan gee en doen soos jy dit wil nie.

Om as 'n ouer persoon jou sê te sê en jou opinie teenoor die jonger geslag te lig, is die grootste sonde wat 'n mens kan pleeg. Dus is ek ook jammer dat ons as ouer persone jul opinies en optredes nie respekteer en maak soos julle wil hê ons moet nie. Wat het geword van respekteer ouer mense se keuses en val daarby in?  Wat het geword van ons doen wat ons ouers van ons verwag? Wat het geword van pa en ma se woord is wet ten spyte van...?

Wie luister vir wie?