Tuesday, August 12, 2008

Om Alleen Te Wees


Vanoggend word ek vroeg wakker (so om en by 04:00) met die liedjie Amazing Grace wat in my kop draai. Ek begin dit neurie, staan toe op, maak koffie en gaan weer rustig le totdat my radio alarm afgaan. Altans het ek die alarm wakker gemaak....

Ek le toe nou soos maar altyd in die afgelope paar maande en terug dink. Skielik kom die woorde van Psalm 23 by my op en wonder ek hoekom het die onderwysers dit altyd by ons as kinders ingedreun. Ek het toe nie verstaan nie, want dit was maar net nog 'n Psalm, selfs ook nie op 'n latere tyd in my lewe nie. Noudat ek ouer word weet ek dat dit eintlik 'n Psalm is vir vertroosting, rus soek en vrede in Sy Arms wanneer die storms dreig en onrustigheid mens beetpak. Dit is 'n Psalm waar jy vrede kry, troos kry met die wete dat Hy jou altyd vashou en teen alles sal beskerm. Die foto hierby het ek met opset so gekies, want dit is waaraan Sy rustigheid my laat dink, daar waar rus, stilte en vrede is.

Iemand het eendag net voor hy selfmoord gepleeg het, die Psalm gereeld gelees. Vandag wonder ek, en dit is nou sonder om te oordeel of te veroordeel, of die persoon werklik geweet het of besef het dat dit eintlik 'n Psalm is waarin 'n mens in tye van alleenheid en verlatenheid, troos kry. God se versekering dat HY jou nie alleen laat nie. In tye wanneer jou vriende en familie jou verlaat het en teen jou opstaan, dat HY ALTYD DAAR IS VIR JOU.

Nou weet ek, ten spyte van my alleenheid, GOD daar is vir my. Met of sonder my foute en verkeerd in my lewe. Laasnag was die gevoel daar dat ek "dood" is en ek dit nie verdien om my voor my Skepper neer te buig nie. Weereens was HY DAAR! Vir my, vir elkeen wat Hom nodig het, ons moet net bly soek, HY is altyd daar ons is nooit alleen nie.

Orals in Sy Woord gee Hy die versekering ons hoef nie bang te wees vir enige gevare wat dreig of mense wat teen ons opstaan nie. Ons moet net na Hom luister en doen wat HY vra. Selfs al vra Hy van jou om jou gesin en familie te verlaat.. Sal jy dit doen? Elders in die Skrif, daar in Lukas iewerste, se Jesus vir sy dissipels: "Jul het my gevolg sonder skoene, sonder reissak, sonder kos....Het julle toe iets kort gekom?" en hul antwoord was: "Nee, niks nie Here..."

As ek dit dan nou so mag stel "after all" is dit nie so sleg om alleen te wees nie. Alleen wees is 'n tyd om te oordink, met God te verkeer, Hom weer te ontdek en te weet dat ons aardse besittings, vriende, familie maar net tydelik is en ons Hemelse rykdom en skatte vir ons wag.

Halleluja, loof en prys Hom!

Groete

Soli

Friday, June 06, 2008

DIE ONGELOOFLIKE SEER


Hoeveel van ons voel nie seer, stukkend en gebroke binne onsself nie? Soveel van gee, neem, gebrokenheid en verwyte.
Geen egskeiding is maklik in enige geval nie. Gelukkig is die wie se huwelike wel gered kon word. Vir diegene waar dinge sover gegaan het dat selfs nie eers berading meer 'n uitweg is nie, kan geen mens die onbeskryflike pyn en seer binne iemand beskryf nie. Jy verloor feitlik alles, jou kinders, eiendom, jou menswees, jou individualiteit en al wat oorbly is die skrale mooi herinneringe van die min mooi verlede.

Die pyn wat gepaardgaan met slegse van die ander party, die verwerping van 'n kind, die selfverwyt dat jy nie meer kon doen om jou huwelik te red nie. Hoe kan mens met 'n eggenoot wat psigies nie gesond is nie, hoe kan jy wanneer 'n eggenoot na sy gesondheid wou omsien nie, hoe kan jy wanneer 'n eggenoot private vriende wil he en jy mag nie? Hoe kan jy as jy nie in jou self net mens mag wees nie?

'n Nuwe begin is ook nie maklik nie, van onder af, daar waar jy was toe jy vir die eerste keer aan die begin van 'n kleurryke loopbaan gestaan het na skool. Daar waar jy alles van nuut af moes kry en moes leer om op eie bene te staan.

Dit pyn in die diepste van jou wese, iets wat jy nie vir enige iemand kan beskryf nie. Dan kom 'n mens tot die besef dat jy in sulke situasies heeltemal alleen staan. Die sogenaamde gesamentlike vriende het skielik van die horison verdwyn. Het dit dalk te make met die ander party wat jou swart gesmeer het by hulle? Of is dit dalk die onbetrokkenheid en afsydigheid? Dan vra 'n mens jouself af was hulle waarlik vriende? Sou ware vriende nie beide partye onpartydig bystaan en ondersteun in sulke tye nie?

Die pyn van weet en sien hoe seer jou kinders het, om hul gebrokenheid te sien, hul weerloosheid. Dan dink mens hul is "okay" maar hul is nie "okay" nie. Hoe maak 'n mens dit vir hul ligter? Net om te se jy gee om en jy is lief vir hulle se nie alles nie veral nie waar hulle afgespeel word deur die ander party nie.

Dan kom die besef weereens HY die Alleen Verlosser en Saligmaker is daar! Altyd daar om iemand in hul hartseer, gebrokenheid, seerkry en alleenheid vas te hou en te vertroos. Altyd daar om op te vertrou en na op te kyk. HY Alleen is 'n mens se vennoot in seerkry tyd, in stukkende tyd, in alleen tyd.

Mag HY Sy seen stuur oor diegene wat wel morele ondersteuning verleen. Al is dit bewustelik of onbewustelik deur 'n epos, 'n foonoproep of net om te gesels. Dankie vir jou my vriend en vriendin wat luister en verstaan. Al kan jul nie raad gee nie, jul is daar in jul eie hartseer, vreugde en lyding en ek dra vandag my kruis saam met julle op die pad na die Ewige Heerlikheid.

Loof Hom wat ons op ons pad na Hom toe lei! SY wee is die nou wee en saam sal ons daarheen deurgaan.

Tot ek weer gesels.

Soli




Tuesday, November 20, 2007

Die hartseer, die pyn en einde van 'n era

Ja, so gebeur dit ook nou. Na 4 jaar se verwoestende baklei , gevloek, geskel en slegmaak het 'n 20 jaar oue huwelik op 'n einde gekom of altans is die einde besig om te gebeur. Wat die pad nou voorle en die toekoms nou inhou sal net vader tyd leer. Nog steeds is die slegmaak en seer nie verby nie, dit hou aan en kan ek net hoop dat my damwalle van bitterheid, woede en seer nie weer sal breek vir 'n derde keer nie. Dat my geduld wat huidiglik tot op die uiterste beproef word sal bly en nie weer die swakheid van my menswees na vore sal bring nie.

In al die tyd is my menswees doodgemaak, my geloof en vertroue het gekwyn en die pad na genesing onseker. Nog nooit was daar soveel seer, hartseer en bitterheid in my lewe soos nou nie. Danksy 'n dogter, familie en vriende hou ek my kop omhoog en probeer ek my trots behou en positief bly. Nog nooit was ek so platgeslaan teen die aarde soos in hierdie tyd nie. Ek is soos 'n dwalende gees wat maar net leef van dag tot dag tot die finale lui van die klok hoorbaar is. Dit is ook in die tyd wat die ware sy van die mens met wie ek voor Hom die belofte afgele het na vore kom, wie jou werklike vriende is en wie nie. Wie jou werklik bystaan en wie nie. Buiten dit alles staan ek nog steeds alleen buite die morele ondersteuning wat ek ontvang.

Dit was nie 'n maklike besluit wat geneem moes word nie. 'n Besluit waarmee 4 jaar al geworstel is en deur geredeneer was en die antwoord elke keer by dieselfde punt uitgekom het - dit is oor, verby, gedaan, dinge gaan nie verander nie...

Ek glo dit is nie wat ons Hemelse Vader wil he nie, dit immers stel Hy ook so in sy Boek en voorskrifte, dit is geweld, maar is geweld binne Sy beloftes nie maar ook net so erg nie? (Violation of Vows?) Maar beveel HY ons tog ook nie om met die sondige dinge te breek en Sy wee te volg soos HY wil nie? Met die dinge te breek wat ons in die afgrond inlei..

Tog is dit deesdae skokkend om te sien hoeveel huwelike na 'n dekade van 20 jaar die hoogste prys betaal en sy tol eis. Het dit nie tyd geword dat ons weer terugkeer na SY wil en beloftes en so geseend wees in die huwelikslewe nie? HY beveel ons tog om te breek met die dinge wat verkeerd is, hoerery, dronkenskap, geweld, sedeloosheid en so meer. Hoe kan iemand in so huwelik bly wanneer een party nie daarvan wil afsien nie? Maar tog het die saak ook twee kante. Ek staan ook nie onskuldig in alles nie, maar sodra ek begin om dinge te probeer regstel dan begin dit maar weer op die gewone ou trant aangaan tot daar weer 'n verskil kom en die bom dan bars. solank ek hom tevrede en gelukkig hou en dinge weer hul normale gang gaan is alles reg met hom, ongeag wat dit aan my innerlike behoeftes doen.

Trane is daar ja, baie.. die seerkry van die kinders, die ontwrigting, die te nakoming en eintlik, eintlik wat van ons vereis word is om verby dit alles op te kyk na HOM wat ons geskep het. HY wat ons deur beproewinge lei en blootstel om ons geloof en vertroue in HOM te toets. Dit is dan in die tye wat 'n mens besef hoe swak en nietig die mens werklik is. Niemand maar niemand kan en sal ooit verhewe wees bo HOM wat ons geskep het nie. HY wat alles is, in alles is, by alles is wat niemand meer wil raaksien nie.

Maar in ons menslike swakheid en klein geloof kan ons dit nie vermag nie. Is dit omdat ons nie wil of kan nie? Of is dit omdat ons nie meer bid en bely dat HY ons enigste Verlosser en Saligmaker is nie? Dat ons nie meer sy Woord wil hoor en lees nie? Dat vermaak en genietinge ons alledaagse lewe oorheers. Die soeke na rykdom en aansien ons so verblind dat ons nie meer SY Liefde en Genade ervaar of raaksien nie?

Al wat ek nog kan se is dat ek self stomgeslaan staan voor dit wat in my lewe gebeur het en aan die gebeur is. Dan vra 'n mens waar het dinge begin vekeerd gaan? Waar het 'n mens die pad byster begin raak? Dalk weet jy, maar wil dit nie erken of dit hardop uitspreek nie. Ek glo dit was die dag toe ek daardie duiwelse selfoon oproep ontvang het in 'n tyd wat die sataniste so bedrywig was. Ons weet almal van al die waarskuwings sms'e wat die rondte gedoen het teen die sataniste se bedrywighede. In my onkunde het ek gereageer op die oproep deur sekere syfers in te sleutel omdat "Telkom" sogenaamde lyn toetsings gedoen het. Te laat het ek besef dat die syfers wat ingetik was en die laaste siniese, vreesaanjaende gelag aan die einde die werk van 'n satanis was en dat Telkom nie lyntoetse doen op selfone nie. 'n Oproep wat my totaal en al onkant gevang het.

Daarna het sekere goed weer met my gebeur terwyl ek geslaap het. Aanvanklik het ek gedink ek het dit gedroom maar dit was so werklik dat dit my tot vandag toe pla. Die tekens was alles daar en mag hierdie werke van vervloeking van satan deur GOD ALLEEN vernietig word en die bose uit ons lewens verwyder word. Daarom gee ek aan GOD ALLEEN die eer, HY wat ons Skepper, Heerser en Verlosser is in hierdie aardse wereldse bestaan van bose werke wat die mensdom van HOM af wil weglei.

Mag ons, ons HEMELSE VADER vir ewig loof en prys vir SY weldade, liefde en genade wat hy altyddeur aan ons betoon. HY ALLEEN IS DIE ALFA EN DIE OMEGA, DIE BEGIN EN DIE EINDE, SKEPPER VAN ALLE DINGE. LOOF EN PRYS HOM! HY IS ONS ROTS, HOEKSTEEN, TROOSTER by wie ons die ewige vrede en rus kan vind wat alle menslike verstand te bowe gaan.

Mag ons almal weer hierdie troos, sielerus en vrede vind by ons Hemelse Vader soos Hy ons beveel wanneer die storms tot ruste kom en verdwyn.

Mag God's rykste seen met een almal van ons wees vir ewig en altyd.

Tot ons weer gesels. Die nuwe begin....

Soli

Saturday, January 27, 2007

'n Donker Donker Jaar


Dit is sowaar meer as 'n jaar terug wat ek my blog besoek het. Die tyd het so gou verby gegaan, maar met 'n baie donker jaar wat aanvanklik goed begin het, het dit donker donker geeindig en kon ek nie regtig weer my blog besoek nie. Nou is die eerste geleentheid in daardie baie lang pose.
Op besigheidsvlak dalk goed, maar op persoonlike vlak uiters donker. My huwelik het agteruit gegaan. Wanneer begin mens om te vergewe en te vergeet? Wanneer hou dinge op wanneer die ander party nie wil vorentoe kyk nie? So erg het dit gegaan, dat ek op die vlak is waar ek glo my hele menswees, my vertroue en geloof in God taan. Dit na alles wat ek voorheen op my blog gese het?...
Hoe stop mens alles? Hoe vergewe jy? Hoe neem mens die bitterheid, haat en hardheid van jou hart weg? Hoe kry jy weer lief as jou geloof en vetroue nie meer daar is nie? Ja dit is hoe sleg dit gaan. Nou nog - daar is net nie 'n einde nie. Hoe se 'n mens jy is jammer sonder om beskuldig te word van onegtheid, bybedoelinge en motiewe? Hoe se 'n mens jy aanvaar verantwoordelikheid en aanspreeklikheid wanneer jy beskuldig word van sarkasme? Hoe praat mens dinge uit as beide partye bly kwaad word vir mekaar en nie mekaar se sieninge wil aanvaar nie? Waar gaan alles eindig? Waar begin mens die fout by jouself soek?
Al wat ek dan nog vra is wat doen jy as jy jou geloof en vertroue in jou Hemelse Skepper verloor het? Het satan uiteindelik vermag wat hy wou? Kan enige mens maar net bly voortbestaan sonder emosie, gevoel en geluk?
Tog is daar so baie waarvoor 'n mens moet dankbaar wees, maar wanneer die donker die goeie oorskadu, kan ek nie help om te wonder of daar nog enige goed in hierdie wereld is nie. Dan vra ek Quo Vadis - waarheen?
Soli

Monday, November 21, 2005

My alles, my wese in een

Sedert ek laas hier geskryf het, het baie water in die see geloop. So swaarmoedig soos 'n mens maar kan raak so vol lewe en opgewondenheid kan daar ook wees.

Sedert ek laas hier so swaarmoedig was, gebeur daar so nou en dan ook iets wat weer lewe gee. Die ou jaar het vir my maar baie donker geeindig en weereens het HY in sy Voorsienigheid ook weer lewe en hoop gegee en het die jaar met spoed en hoogtepunte afgeskop, alles met SY genade en seen.

Dinge soos kinders se prestasies wat jou bors laat swel van trots, hul kwinkslae en manewalesse. 'n Besigheid wat oornag begin floreer, wat meer kan 'n mens vra?

Steeds bly daar ook die donker sy waar riviere stede oorstroom en damwalle breek en oorstroom, maar die oorstromings het niks met die werklike natuurrampe te doen nie. Dit is die innerlike strome van trane wat alles na die innerlike mens oorstroom. Die hartseer, die seerkry wat die ou jaar meegebring het. Die verlies aan geliefdes, die verlies aan persoon, individualiteit en die emosionele. Die seerkry van 'n vrou waar sy net moet wees. Moet wees in alles wat sy doen vir haar man, haar kinders.. net moet wees. Net moet wees vir God en Sy Wil, net moet wees vir ander, net moet wees ..... daar waar die vrou in haar nie tot uiting mag kom om ook haarself te kan wees nie.

Dan wonder ek as dit so in SY Raadsplan beskik is, Sy doel met die vrou is, dan moet 'n mens maar net wees...
Die damwal het gebreek,
Haar trane het oorstroom
Na binne - onsigbaar
Van hul wat haar oorstroom
Gestroop van emosie
Gestroop van individualiteit
Gestroop van menswees
Soos oorblyfsels na die vloed
Is sy maar net om te wees..

Soli