Thursday, October 19, 2023

Die hartseer en pyn van 'n kind

Vanoggend gaan ek deur my gallery van foto's en vir een of ander rede stop ek by die foto. Ek vergroot hom, onmiddellik vul die gesiggie my oë met trane.  Met die eerste opslag het ek dit nie raak gesien nie, maar toe ek die foto vanoggend vergroot, sien ek die geweldige hartseer en pyn in die gesiggie van my kleinseun AJ.
Watse ongelooflike seer het hy nie op daardie oomblik ervaar nie. Trane moes sekerlik gevloei het daar waar hy alleen langs 'n dam sit en peins het.

Ouers wat vars uitmekaar is en die leemte van 'n moeder wat nie meer saam dinge meemaak nie.  Die hoekoms en waaroms wat op daardie oomblik deur sy gedagtes gegaan het 

My kind hoe wens ouma suid-afrika vanoggend dat sy net daar kon wees vir jou. Jou net kon vasdruk en saam jou huil. 

Besef ouers wat hul aan hul kinders doen wanneer hul onbesonne dinge aanvang met verwoestende gevolge en letsels laat op hul kinders. Dit net omdat aan eie behoeftes gedink word en kinders nie in ag geneem word nie.

Wanneer ernsaamheid, verlange en depressie lei na drank, dwelm en seks misbruik. Wanneer  ontoegeeflikheid en gebrek aan ondersteuning vir die ander party se behoeftes lei tot vernietigende aksie. Wanneer partye nie hul eie tekortkominge wil erken of hulp wil kry nie.

Dan word  kinders die slagoffers van die aksies. Dan word kinders meestal van die tyd ook gevolge van die aksies,  onvervulde volwassenes.

AJ ouma bid vir jou en Alrie. Ouma bid en hoop dat daar versoening sal kom, al lyk die kanse skraal. By God is niks onmoontlik nie.

Ouma sal altyd lief wees en daar wees vir jul almal.


Saturday, September 09, 2023

Geluk Rayden

More Rayden. 
Ouma wil vandag vir jou baie geluk wens met jou 11de verjaardag. Mag jy 'n baie mooi en geseënde daggie hê. Geniet elke oomblik van jou daggie en res van die jaar. Weet net dat ouma baie lief is vir jou, al ken jy my nie, want ek word nie toegelaat om met jou kontak te hê nie. Die redes hiervoor moet jou ouers maar aan jou verskaf, want ek weet regtig nie hoekom nie.  

Liefde Ouma Etrecia

Monday, May 15, 2023

VIR RAYDEN

 My liefste Rayden,

Ek skryf vandag hierdie ope brief met die grootste liefde en deernis aan jou. Ouma hoop en bid dat jy eendag hierdie sal kan lees en verstaan waarom jy my nooit geken het nie en wie die vervreemding meegebring het.         

Ouma skryf vandag hier vir jou na 'n baie baie lang tyd. Nie omdat ek nooit aan jou dink nie, maar omdat ek soms net voel alles is tevergeefs. Nie net dink ek elke dag aan jou nie, maar ry ek ook sovele kere by jou skool en huis verby en wens ek kon net ingaan om vir jou hello te sê, en om jou ‘n drukkie te kan gee.

Soveel kere wens ek, ek kon by jou sport wees, skool byeenkomste ensovoorts wees. Telkemale probeer ek om inligting omtrent jou aktiwiteite te bekom, maar elke keer beland ek in 'n doodloop straat. Nooit vergeet ek jou verjaarsdag nie, al het ek ‘n paar keer gemis om vir jou ietsie te skryf met jou verjaardag, want sien jou verjaardag val op dieselfde dag as jou oorlede oupa Stephan s'n en toevallig vandag 9 Mei sou ons huweliks herdenking gewees het, as dinge nie vir ons verkeerd geloop het nie.

Ongelukkig word ek van jou af weggehou en verbied om jou te sien vir welke rede ookal. Soms wens ek, ek het geweet wat vir jou vertel word van jou bloed ouma Etrecia, jou familie aan pappa se kant. Jou eie pappa het my verbied om jou te sien.

Tot vandag toe weet ek nie wat die rede hiervoor is nie, Dit nadat ons in 2018 ontmoet het en ek by jou grade plegtigheid was. Soos ek hier tik, is jy nou al 10 jaar oud en word jy September 2023 11 jaar oud.

Jou ma se rede is sy hou nie van my nie, wat jou pa se beweegrede was weet ek nie. Ouma mis jou en al my ander klein kinders. Jou nefie en niggie in Namibië ken my darem en weet wie ek is.

Ek sou so graag wou weet of jy rugby speel, krieket speel en wat jy van hou. Sou so graag jou net vir ‘n dag of twee of selfs ‘n naweek by my wou hê. Ongelukkig het jy ‘n ouma Linda Theron, mamma Jean-Marie Theron en pappa Stephan van der Westhuizen wat weier dat ek kontak met jou moet hê.

Ek het al ‘n regsaksie begin toe ek skielik in 2018 toegelaat was om jou te sien en dit toe laat vaar, net om weer uit die bloute geweier te word om jou te sien.

Jy sien Rayden, ek was die Januarie 2019 by een van jou atletiek byeenkomste toe jou ouma Linda jou ma bel, by die skool opdaag en jy summier van my af weggehou is sonder dat ek deel kon word van jou. Die rede:  “Ouma Etrecia verwar jou” net daarna het pappa my verbied om ooit weer by een van jou byeenkomste op te daag. So weier die skool ook om enigsins enige iets van jou vir my mee te deel.

Rayden, jy moet weet, ek wil en wou so graag ook ‘n ouma vir jou wees, maar ek word nie toegelaat of is nooit toegelaat om dit vir jou te kon wees nie.

Hopelik sal jy eendag, wanneer jy groter is, die vrae aan jou ouers en ouma Linda kan vra. Hopelik sal hulle vir jou die regte redes kan gee, wat ek tot nou toe nie weet wat dit is nie. Duidelik is dit van my kant af onverstaanbare redes en was ek nooit onredelik of ontoeganklik vir besoeke aan jou of jou ouers aan my nie.

Jy word toegelaat om vreemdes te leer ken, ‘n oom wat nie eers jou bloed oupa is nie, oupa te noem, Ja ouma Linda se vriend en waarmee sy loop en spog het dat jy hom  nou al oupa noem. Jy mag by vreemdes gaan kuier, bly, gesels en sosialiseer, maar ouma Etrecia is verbode.

Rayden ek kan net glo en vertrou dat ons paaie eendag sal kruis voor ek my kop neerlê. Hopelik sal ek jou kan leer ken wanneer jy al die dinge sal bevraagteken en in ‘n mooi jong man verander het. Hopelik sal ons nog saam kan lag en ‘n bietjie pret kan hê.

Mag jy ‘n mooi en vol lewe hê Rayden al ontmoet ons mekaar nie. Mag jy nie dieselfde foute maak wat jou ouers gemaak het nie. Mag jy ‘n vol geloofslewe lei met respek en liefde vir ander. Mag jy ‘n lewe lei sonder bitterheid en wrok teenoor ander.

Ouma wens vir jou net dit wat mooi en goed is toe vir die toekoms. Ek gaan probeer om met elke verjaardag van jou 9 September elke jaar , hier vir jou ietsie te skrywe en ‘n afdruk daarvan vir jou na te laat.

Mooi gaan

Liefde Ouma Etrecia     

 
                

09 Mei 2023                                      


Monday, February 27, 2023

My kind sal jy....?

 


Ek sit nou die eendag in die dokter se ontvangs lokaal en wag vir my man om uit die laser kamer te kom. So in die sit en wag, eintlik het ons in die gangetjie gesit en wag, kom ‘n ma, dogter en ouma verby.


Die ma is ietwat aan die lang kant, dan die dogter effens korter en so treetjie agter die ma, die bejaarde statige ouma.

In die verby gaan vang my oog die bejaarde tannie se hand in die groot sterk jong hand van haar dogter. (Ekself het so pas my pensionaris jare betree). Ek staar my vas teen die treffende prentjie van hierdie jong hand wat die bejaarde hand vashou en besef hoe vinnig ons oud word.

Ten aanskoue van die mooi gebaar en sonder geen rede, raak ek net daar bewoë en kry trane in my oë. So mooi prentjie van respek, omgee en liefde laat my aan my eie oud word toekoms dink.

Terwyl ek nog sukkel om my trane in bedwang te bring, kom my man  uit die laser kamer en moet ons weer terug na dokter se spreekkamer. Met ‘n gesukkel hou ek die trane terug en met ‘n skor stem vra ek manlief hoe dit gegaan het met die laser prosedure. Alles goed afgeloop antwoord hy en stap ons voort na dokter se spreekkamer.

So in die stap begin die vraag toe deur my kop maal. Met my eie kinders en kleinkinders wat so vêr van my af woon, vra ek myself:  my kind sal jy my hand ook eendag vashou in joune,  soos ek joune vasgehou het toe jy begin loop en rond hardloop het? Sal jy dit vir my ook doen my kind?

 

Sal jy …….?

 

Liefde ma en ouma                

Etrecia

Sunday, September 08, 2019

Geluk Rayden

Sewe jaar terug is my oudste kleinseun gebore. In sewe jaar kon ek jou bitter min te siene kry of jou leer ken. Tot nou toe word my kontak met jou vir een of ander duistere rede geweier. Ouma hou jou geskenkies vir jou tot jy groot genoeg is om self agter die kap van die byl te kom.  Ouma wil vandag vir jou sê Rayden, mag jy môre ( 9/9/2019) 'n baie mooi geseënde verjaardag geniet. Mag ons Hemelse Skepper jou op jou lewenspad vergesel. Liefde ouma Etrecia.

Tuesday, June 18, 2019

Die Waarheid

 Die waarheid is, (nie soos in Schalk Bezuidenhout se nare waarheid van TV faam nie, maar mens kan dit seker maar daaraan koppel, afhangende hoe jy dit interpreteer.) dat jy nie die volle waarheid vertel word soos dinge gebeur nie om jou sogenaamd teen slegte "elemente" te "beskerm".

Jy sien Rayden, ouma probeer haar bes om deel van jou lewe te wees. maar word ouma elke keer geweier om met jou kontak te he of 'n band te bou omdat grootmense verskille het en sogenaamd "seergemaak" voel en hul ego'tjies seergekry  het. Nou hou hulle sekere dinge van die verlede teen jou ouma aan pappa se kant so asof hulle sonder foute en swakhede is.

My kind, ek was al met vele byeenkomste by jou skool, ongelukkig kon ek jou nie te siene kry nie omdat jy op 'n baie subtiele wyse van ouma af weggehou word. Jy word toegelaat om met vreemdes te kommunikeer, maar jou eie bloed ouma aan pappa se kant is streng verbode. Hopelik as jy eendag beter kan verstaan en groter is sal die verbod aan jou verduidelik word.

Jy sien, volgens jou ma en jou pa se vrou is ek die ouma wat gedurig loop en vloek en skel. Ongelukkig is die tannie wat so erg gevloek en geskel het wat oorkant die pad van ouma bly, so twee weke gelede oorlede. Nou dit is maklik vir mense om op ander se swakhede en foute te ry en verby hulle eie sondes te kyk en ander te oordeel. Jy sien, Rayden, wanneer grootmense kwaad word, raak hul soms buite hulself van woede as gevolg van frustrasies en magteloosheid van mense wat nie hul lewensomstandighede wil verander met die hulp van ander nie. Hulle sal eerder op ander "teer" en ander uitbuit of so lewe dat hulle jammer gekry word en dan ander se goedheid misbruik.

Sulke mense sien selde of ooit die verandering raak wat in 'n ander persoon plaasvind en is nie bereid om van die verlede weg te beweeg en 'n beter toekoms tegemoet te gaan nie.

Rayden al wat ouma vandag vir jou kan se is, dat ek jou gevolg het van baba tyd af, van die dag van jou geboorte af toe ek jou in my arms gehou het. Daarna is ons vervreemd en het mamma geweier om enige kontak te he. Al was dit dan net op gesteelde foto's, het ek jou grootword gevolg. Selfs die kort rukkie toe ek jou kon ontmoet in pappa se teenwoordigheid na 6 jaar en wat my vir 'n wyle toegelaat was entoe weer kortgeknip is as gevolg van groot mense se "seergemaakte" gevoelens en onvergewinsgesindhede.

Ryaden my kind, ek kan net hoop en bid dat jy eendag die volle waarheid en net die waarheid sal uitvind. Ten minste het ek die gemoedsrus dat jy wel van my bestaan bewus is en wanneer jy eendag groot genoeg is, die moed van oortuiging sal he om my te soek waar ek my dan ookal mag bevind om  my kant van die saak te hoor. Rayden, jy sal altyd in my gedagtes wees, want sien tans bly jy 'n paar minute van my af, nog steeds is my versoeke om besoek aan jou verbode. Soos ek hier skryf is jy tans in gr. 1 en was ek wel toegelaat om jou in Januarie van die jaar te kon sien, let wel net sien. Ek was nie eers behoorllik toegelaat om net met jou te kon gesels nie. Wel groet ja, maar dit was al. Die skelm drukkie en vinnige gesprekkie wat ek van jou kon kry toe mamma haar rug draai tydens jul kaskardag, sal my altyd bybly en weet ek daar is tog 'n band, maak nie saak hoe vervreemd ons van mekaar is nie.

Jou aktiwiteite is nie aan my bekend nie, en moet ek maar raai waaraan jy deelneem en wanneer die skool sekere aktiwiteite aanbied, want selfs dit word van my weerhou.

Dit is my wens dat jy 'n mooi groot jong man sal word met integriteit, want ek weet jy is 'n intelligente seun wat eendag groot hoogtes gaan bereik. Sou ons mekaar dan nooit weer sien nie, weet net ek sal altyd lief bly vir jou. Jy is my oudste kleinseun van ses ander, maar jou plekkie sal altyd oopbly in ouma se huis en in ouma se hart.

Met baie liefde
Ouma Etrecia


Wednesday, February 20, 2019

Wie luister vir wie?


 Ek het lank gewik en geweeg oor wat my volgende inskrywing sal wees. Met die inskrywing wat ek nou gaan maak, mag ek dalk op baie mense se tone trap - net 'n waarskuwing.  Ongelukkig is ek 'n baie reguit en op die man af individu. (Die dat ek seker nog nie grys hare het nie.) Ek hou nie van doekies omdraai of 'n opkroppery en 'n gepraat met frilletjies en valletjies nie. As iets my pla sê ek dit en kry klaar. Indien jy nie daarvan hou nie moet jy maar die skoen aantrek soos dit jou pas. Dit is maar net eenmaal hoe ek is.
 Die jonger geslag voel erg verontreg, vernederd  en "seer gemaak" wanneer hul met die waarheid gekonfronteer word of wanneer 'n mens jou stem begin verhef (soos hulle dit noem op hulle skree). Soos in die onlangse voorval ja, maar ek het spesifiek daarop gelet dat ek nie skelwoorde gebruik nie. Dus indien jy "heilig" is en nie soms 'n skelwoord laat val of selfs jou stemmetjie verhef nie, draai terug na die spieel en gaan kyk eers daarin. Indien jy my nie kan aanvaar soos ek is en wie ek is vir wat ek is nie, gaan kyk weer in die spieel.  Dit is my motto in die lewe om mense te aanvaar vir wie en wat hulle is en nie te oordeel nie omdat ekself nie vry is van foute maak in my lewe nie. Dus as jy my nie kan aanvaar nie, moet dan nie eers probeer om my vertroue te wen nie.

Dit is goed vir kinders om hul stemme te verhef en hulself op te ruk wanneer dinge nie volgens hulle weg gaan nie. As ouer moet jy maar net stilbly, aanvaar en saam hul beweeg - ongeag.

Vandag se ouer garde / ouers moet luister na dit wat die kinders se opdragte is en wat jy as ouer moet doen. Omgekeerd kan dit nie meer plaasvind nie. Sodra die ouer weier om aan kinders se eise te voldoen, is jy aan die verkeerde kant en word alles wat in die verlede gebeur het teen jou gebruik of sekere situasies omgeswaai om teen jou te gebruik. Soos wanneer geborsvoed word terwyl daar gedrink en gerook word, sterk kosse geeet word en die kleintjie heel week aan die skree gaan en word ouma daarvoor geblameer omdat ouma so "skel en skree". So word alles verdraai.

En o ja, moenie vergeet nie, as die kinders mors en teer op ma en pa se geld, kos en gasvryheid, moet die ouer verseker dat jy die een is wat agterna gaan skoonmaak en in die skuld gedompel gaan word of sekere dinge gaan moet prysgee om kinders tevrede te hou. Die proses van skuld hersiening "debt review" word as verskoning en skild gebruik om nie vorentoe te kan beweeg of omstandighede word gebruik om nie 'n werk te kan kry nie. So word sekere verpligtinge ontduik. Solank ma en pa ge"melk" kan word om te voorsien in finansiële behoeftes is  alles honkey kedonkey dorie. Asseblief ouers moet dit net nie begin teenstaan  nie dan is jy die vark in die verhaal. Dus wie luister nou vir wie? Wie is die ouer en wie is die kind?
Ek is moeg om te wees soos ander my wil laat wees, ek is moeg om te doen soos ander my wil laat doen en dit hulle geval, ek is moeg om te spring wanneer kinders sê spring, ek is moeg om te luister wanneer kinders opdragte en bevele gee.Ek is moeg om verbied te word om my opinie te lig of dit so te lig sodat niemand in die proses "seergemaak" word nie. Ek is moeg vir lig geraakte mense wat alles swaai soos dit hulle pas. Wat het van die sogenaamde "vryheid van spraak" geword. Ouers onthou net, dit is net kinders wat mag en kan sê wat hulle wil, soos hulle wil en hoe dit hulle pas. Wie luister nou vir wie? 

Nou wil ek maar net sê, jammer dat ek is wat ek is, jammer dat ek jou seermaak, jammer dat ek in jou "pad" staan omdat ek nie wil doen soos jy dit wil hê nie, jammer dat ek ingemeng het, jammer dat ek op jou geskel het, jammer dat ek my huis vir jou oopgemaak het, jammer dat ek agter jou moes skoonmaak, jammer dat julle nie 'n bydrae in die huis gemaak het nie, jammer dat ek my deel in die samelewing gedoen het, jammer dat ek jou nie reg opgevoed het nie, jammer dat ek jou verontreg het,  jammer dat ek jou aanvaar soos jy is, jammer dat ek jou ma is en jammer dat ek die oorsaak is dat ek nie my kleinkinders mag sien nie, jammer dat ek nie 'n miljoenêr is wat alles vir jou kan gee en doen soos jy dit wil nie.

Om as 'n ouer persoon jou sê te sê en jou opinie teenoor die jonger geslag te lig, is die grootste sonde wat 'n mens kan pleeg. Dus is ek ook jammer dat ons as ouer persone jul opinies en optredes nie respekteer en maak soos julle wil hê ons moet nie. Wat het geword van respekteer ouer mense se keuses en val daarby in?  Wat het geword van ons doen wat ons ouers van ons verwag? Wat het geword van pa en ma se woord is wet ten spyte van...?

Wie luister vir wie?





Wednesday, November 01, 2017

'n Brandende Land

'N BRANDENDE LAND

Na vandeesweek se swart Maandag, optogte en 'n wit kruis wat op profiel foto's geplaas is om medelye te he met alle gewelds slagoffers, word daar boodskappe uitgestuur om die kruis te verwyder omdat ons ge-"target" word.

Nou wil ek vir diegene vra wat paniek en vrees saai deur sulke boodskappe uit te stuur, glo jy werklik? Waarom hardloop jy weg as jy werklik
glo?

Dan praat ons van onsself as 'n "gelowige" nasie, maar wanneer dit by "oorlog" kom en terugveg kom, raak ons bang en hardloop ons weg. Is jou eis van 'n gelowige Christen dan geregverdig? Ons is elke dag 'n "target"/ 'n Teiken vir alle vorms van geweld en misdaad. Hetsy op pad werk toe, winkels toe, met vakansie, waar ookal. Ons is en bly 'n "target".

Ons is 'n sogenaamde "gelowige" nasie, ons bid, ons pleit maar ons doen niks. Wanneer ek praat van "oorlog" gaan dit oor 'n geestelike oorlog, dit sluit wit, swart,  bruin en gekleurd in want almal, die hele volk is keelvol vir aanblaas van vrees, chaos en verwoesting van 'n land waarin 'n volk en nasies in vrede kan saam leef.

Ons het bang geword om die euwels te bestry. Ons het bang geword om op te staan vir dit wat goed en reg is. Ons het bang geword vir mense. Wie is mense? Mense is 'n instrument in God se hand. 'n Instrument om Sy Woord uit te dra en te veg vir dit wat reg is.

God het tog immers die volke laat oorlog maak om vrede te bewerkstellig. God wil he en Hy verwag dit van ons om Sy wil te doen en na te kom. Nie net om heeltyd van Hom te eis en af te vra nie, maar ook om the DOEN. Wat doen ons? Ons hardloop weg, ons bly weg van die Huis van die Here af, ons aanbid babel en mammon, maar wanneer dit by die saak van die Here kom, dan hardloop ons weg of is ons te skaam om op te staan vir HOM ons Verlosser, Saligmaker en Heler. Ons het te bang geword om saam te staan en skouer aan skouer te veg. Ons steek mekaar eerder in die rug as om te ondersteun en om dit wat ons van God afgebid het verder te neem.

Ons wil net altyd hoor wat vir ons goed is, maar ons wil nie hoor wat vir God goed is en wat Hy van ons vra nie.

Staan op!  vresende, bang nasie, veg sy aan sy met medegelowiges, wit, swart, bruin of gekleurd. Waarom bang wees vir mense? God is tog baie groter as enige mens?

Wat nodig is in die brandende  land en wereld is verootmoediging en daadwerklike optrede in geloof, werklike berou, God se Woord te soek, Sy Wil te begin doen en Sy Huise weer vol te begin maak en huisgodsdiens te hou,

Dan eers sal regverdigheid begin intree. Dan  eers sal daar vrede begin kom, Dan eers sal mense in harmonie met mekaar kan begin saam leef, Dan eers sal geweldenaars, moordenaars, diewe, skelms, haat en nyd tot 'n einde kom. Dit alles tekens van die eindtyd.

Mede burger en gelowige, die oproep van God is daar! Maak oop julle oe en begin om God te dien in volle glorie, volle lofprysinge en volle skuld erkentenis. Hou op! om paniek en vrees te saai en begin werklik om te glo in God se Mag en Sy Wil want Sy Raadsplan is in plek.

Seenwense vir ieder en elk wat hier lees, vrede vir julle en mag God in die proses geeer en gedien word.


Friday, February 03, 2017

DIE DOOD EN GEBOORTE

Hoe bring mens dood en vreugde bymekaar uit? Die een ding wat in die afgelope tyd in my kop bly maal en maal. Om te probeer verstaan is  bo menslik en glo ek nie vir ons as mens beskore om te verstaan nie.

Een of ander tyd word elkeen van ons deur die dood geraak. Vanmore was my gemoed weer vol van hartseer en my oe vol trane aan die gedagte van al my geliefdes wat ons as gesin en familie aan die dood moes afstaan.

Uit my vorige huwelik het ons eers my skoonpa, toe 'n ouma (aan eerste eggenoot se kant), toe 'n neef, toe 'n tante  (almal in 'n bestek van een jaar) en 'n paar jaar later my eerste eggenoot  afgestaan aan die dood. Tussenin was daar ook 'n vriend en vriendin wat die tydelike vir die ewige hiernamaals verruil het.

In die laaste 3 jaar moes ek weer langs oop grafte staan, eers my ousus, 'n jaar en 'n half later my eie pa, 11 maande en 10 dae later my ma (nou presies 'n maand gelede).  Vier dae na my ma se begrafnis word 'n kleinkind vir ons gebore en word dit trane van hartseer en blydskap, want kleinding is op 27 weke gebore en 'n skrale 460g geweeg, normaal en gesond met nog enetjie te wagte in Augustus 2017. 

Wanneer mens voor 'n oop graf te staan kom, wonder mens dikwels (en dit is wat my vanmore ook weereens aangeraak het) wat is die nut en doel van lewe werklik.

In die begrafnisrede van my ma se roudiens, het  die predikant na my ma verwys as iemand wat letterlik soos 'n klein kindjie geglo en vertrou het op haar Hemelse Vader - wat 'n wonderlike getuigskrif en voorbeeld is dit nie van 'n ouer aan hul kinders nie.

Ek onthou hoe my pa altyd sy Bybel op sy lessenaar in sy kantoor gehad het. Nie skaam om sy Bybel te gebruik nie en stiltetyd gehou het voordat hy en my ma aan die werk gespring het om kos op die tafel te voorsien. Dit laat mens met stof tot nadenke van waaroor die lewe nou eintlik regtig gaan. My ouers was nie arm nie, ook nie ryk nie, maar hul kinderlike geloof en vertroue in hul Hemelse Vader het hulle deur moeilike, swaar en storm tye gedra.

Dit bring my terug na my eie swaar kry tye en word ek herinner aan die liefde van ons Hemelse Vader toe hy vir ons Sy Seun gestuur het om ons van ons ellende te verlos. Jesus Christus was nie arm nie en ook nie ryk nie Sy enigste Rykdom: God se liefde vir sondaars.

Ek het feitlik alles verloor voor ek my huidige eggenoot ontmoet het. Soveel kere het God ingegryp, herstel, gelei en voorsien. Daar was soveel innerlike worstelinge met God en die blindheid om Sy Wil raak te sien, het oop grafte gekos om wysheid en insig te bekom van waarom God 'n pad met mens loop.

Gewoonlik is daar 'n gevegtery oor nalatenskappe en wie erf wat na iemand se dood. Daarom het ek altyd vir my ouers gese ek wil niks erf nie. Ekself het nie my eie redenasie verstaan nie, tot ek tot die besef gekom het: "ek het God se liefde en geloof ge-erf". 'n Liefde en Geloof wat my ouers my van kindsbeen af geleer het. 'n Erfenis wat niks of niemand ooit van 'n mens kan beroof nie. 'n Kinderlike geloof en voorbeeld wat ouers vir hul kinders gestel het. DIT is die Grootste Rykdom wat iemand kan nalaat. 'n Rykdom wat oorgedra kan en moet word na die nasate - 'n rots wat altyd vas sal bly staan.

Nou kan ons in Geloof, Hoop en Liefde en die grootste hiervan is God se nalatenskap van LIEFDE, voortgaan in vreugde van nuwe lewe, met die wete, dat al ons geliefdes verhuis het na Ons Hemelse Vader se Liefdevolle woning.

Dat ons in vreugde hierdie Liefde van God kan laat onderrig en nalaat aan ons kinders en kleinkinders.

Mag God se seen, Liefde, Vrede en Vreugde met almal van u wees en op u rus wat hier lees.

Soli Deo Gloria

Etrecia








Thursday, January 21, 2016

'n Brief aan my kinders

               
      Dierbare kinders,

Dit is met verlange en baie heimwee dat ek die brief aan julle opdra.

Die Here het ons  geseën met twee gesonde normale mensies, geweef in die moederskoot.
Die wonderlikste geskenk wat ‘n ouer kan ontvang.

Ons het dit nie altyd maklik gehad nie, maar werklike swaarkry het ons ook nie gehad nie. Die Here het altyd vir ons gesorg, net soos HY nou ook vir ons sorg. As ouers kon ons altyd voorsien in julle behoeftes en gee wat julle nodig gehad het.

Ons het julle in geloof en liefde grootgemaak om in respek en verantwoor-delikheid op te tree, nie net teenoor julself nie, maar ook teenoor jul medemens. Ons as ouers was en sal  nooit volmaak wees nie en daarom ons bes probeer om vir julle ‘n voorbeeld te kon stel.

Op skool het julle geskitter en kon mense nie uitgepraat raak oor  twee prag blomme wat altyd hul medemens met die grootste respek hanteer het en glo julle vandag nog doen. Wat ‘n trots en sieraad was dit nie vir ons as ouers nie. Ons het heeltyd gepronk en uit ons nate gebars van trots.

Totdat.....totdat die duiwel ons wingerd begin verniel het. Toe ons in geloof begin faal en aan wêreldse dinge begin toegee en meegee, het ons getuimel en bly tuimel totdat ons nessie uitmekaar geruk is. Ons as ouers het ons kinders gefaal en was onherstelbare skade aangerig.

Die egskeiding en dood het ons ingehaal en ons verder uitmekaar laat spat. Verliese van eiendom, besittings en finansiële nood het dit vererger. Ten spyte van diepe hartseer het julle sterk bly staan. Julle het verwerping ervaar totdat die Hemelse Vader ingegryp het om mense op jul weë te plaas. Na maande se trauma verwerking en wroeginge het jul staande gebly en geleer om mislukkings te oorkom en suksesse te bereik.

Hereniging en samesyn het ons weer nader aanmekaar gebring met meer waardering en begrip vir mekaar. Nou is julle volwasse persone, elkeen met sy eie uniek wees. Terugslae het julle nie van stryk gebring om aan te hou probeer, vas te hou in geloof, hoop en liefde nie.
Julle is geseën met ‘n werk, gesondheid en mense om julle wat omgee en bowenal die geskenk van ‘n seun en kleinseun.

Tegnologie oorbrug afstand, begrip vir omstandighede gaan gepaard met geduld en liefde na die uitsien en brandende verlange van werklike samesyn.

Mag God se liefde, vrede en seën met julle wees. Vir julle berusting bring waar julle is en in alles wat julle doen.


Met verlangende liefde

Mamma 21/1/2016