Thursday, July 09, 2009

DIE LAASTE MAAL SO FINAAL

My laaste vorige inskrywing was 20 April 2009. Nooit het ek gedink dat my lewe 6 dae later so drasties sou verander nie. My eks man van 21 jaar het nog sy laaste epos aan my op 20 April gestuur en ek my laaste aan hom. Op 26 April 2009 het die Hemelse Vader dit behaag om hom van ons weg te neem.
Skielik was ek hierdie geskeide weduwee en het vir die eerste maal in my lewe nie geweet wat my te doen staan nie. Daar was soveel seerkry, soveel verbittering, soveel wrok en haat, soveel dinge wat verkeerd geloop het dan vra mens hoekom en waarom moes dit juis nou gebeur? Ons was presies 21 jaar getroud, 1 jaar vervreemd en 1 maand geskei, speel die ene dalk 'n rol? Hoe verwerk mens die dubbele trauma, eers die menslike skeiding en toe die skeiding van die dood - ons Hemelse Skeiding.

Hoe help jy jou kinders deur hierdie dubbele trauma gaan? Ek word maar net beskou as die geskeide vrou, maar verstaan mense werklik hoe dit my raak? Ek wonder baie en le baie nagte wakker oor hoekom moes dit nou juis so gebeur. Was ek destyds regtig so onredelik om 'n besluit te neem waarmee ek 4 jaar lank geworstel het? Wat was en is die doel van alles?
Mense verstaan nie altyd nie, selfs ek ook nie, ten spyte van al die lelik wat daar was, ten spyte van al die verskille en verkeerd, rou ek ook oor 'n maat wat nie meer daar is. Was daar dalk 'n boodskap in sy pleidooie aan my om terug te keer na hom? Was dit ons Hemelse Vader wat met my wou praat en ek nie wou luister?

Die seer sal seker nog lank duur en veral die kinders ly swaar. Skielik is daardie esktra heenkome, daardie ekstra inkomste, daardie ekstra aandag, vertroeteling en liefde nie meer daar nie. Tog wil ek hier ook my huldeblyk aan 'n pa, 'n vriend en eggenoot weer 'n keer weergee soos wat ek in die begrafnisbrief gedoen het en lui soos volg:
"Stephan, ek sal jou altyd onthou as iemand wat omgegee het vir almal wat jou lewenspad gekruis het - 'n omgee mens. Jou liefde vir jou medemens het geen perke geken nie. Jy was 'n pa, 'n vriend en eggenoot. Die mooi tye wat ons saam kon he sal my altyd bybly. Dankie vir 2 pragtige kinders waarop jy altyd trots kan wees. Rus in vrede."
Tot ons weer ontmoet, jou vrou en maat van 20 jaar.

Mag die Hemelse Vader vir ons nou die geleentheid gee om 'n nuwe begin te maak en nie weer dieselfde foute te begaan nie. Vooraf verhoudings te bou, die kinders by te staan en nuwe vriende te maak.

My boodskap aan iedere en elkeen wat hierdie blog mag lees is net dit: Vrouens wees lief vir julle mans en kinders, verdra hulle in hul swakhede, tekortkominge - wees net lief vir hulle al gaan dit hoe moeilik en moenie groen weivelde gaan soek waar dit nie nodig is nie.

So ook aan julle mans en kinders: Wees lief vir jul vrouens en ouers, verdra mekaar in jul swakhede en tekortkominge, praat met mekaar en deel met mekaar. Mans dra jul vroue op jul hande soos die Bybel jul beveel: "soos 'n seelring op jou hart". Moenie jul vrouens maar net as vanselfsprekend aanvaar nie. Moenie groen weivelde gaan soek waar dit nie nodig is nie. So ook vrouens aan julle mans en kinders. Wees 'n gesin en bou op die Bybelse fondament van liefde, geloof, vertroue en eensgesindheid.

Mag God u een en elkeen seen met SY liefde, genade, geloof, vertroue, geduld en verdraagsaamheid.
Soli



Monday, April 20, 2009

DIE VERSUGTING

Hierdie wil ek laat aansluit by my vorige blog van "OM VRY TE WEES".
Vandag besef ek eers hoe vry 'n mens werklik kan wees. Terwyl 'n mens nog steeds die vernedering van slegse moet verdra en verduur ten spyte dat alles nou verby is, weet ek dat ek nou veilig kan gaan rus en voel in my Hemelse Vader se warm omhelsing.
HY is al een wat ken en weet en by wie daar volle vertroue is. Hy is al een wat geen mens ooit in die steek sal laat nie. Die wete dat HY my kalm hou, my rustig hou ten midde daarvan dat die lelike nou onlangs in my uitgelok was, weet ek, ek het SY vergifnis ontvang.
Mense praat, mense skinder, maar dit word hul vergewe omdat hul nie van beter weet nie. Omdat hul net insig in hul eie toon sonder om die ware feite te wete te kom. Daarom wil Soli vandag aan almal daar buite se ek is lief vir julle almal of jul van my hou al dan nie of jul my ken al dan nie en of jul dink ek is baie morbied - al dan nie. Daarom wil ek ook vir jul se vrede vir julle met 'n opregte hart.
Die wat dit wil glo, glo dit, die wat nie wil nie mag SY seen op jul rus en jul vrede en rustigheid in SY omhelsing vind. Psalm 23, Psalm 128.
Mag SY genade en vrede ons almal omvou.
Groete
Soli