Tuesday, June 18, 2019

Die Waarheid

 Die waarheid is, (nie soos in Schalk Bezuidenhout se nare waarheid van TV faam nie, maar mens kan dit seker maar daaraan koppel, afhangende hoe jy dit interpreteer.) dat jy nie die volle waarheid vertel word soos dinge gebeur nie om jou sogenaamd teen slegte "elemente" te "beskerm".

Jy sien Rayden, ouma probeer haar bes om deel van jou lewe te wees. maar word ouma elke keer geweier om met jou kontak te he of 'n band te bou omdat grootmense verskille het en sogenaamd "seergemaak" voel en hul ego'tjies seergekry  het. Nou hou hulle sekere dinge van die verlede teen jou ouma aan pappa se kant so asof hulle sonder foute en swakhede is.

My kind, ek was al met vele byeenkomste by jou skool, ongelukkig kon ek jou nie te siene kry nie omdat jy op 'n baie subtiele wyse van ouma af weggehou word. Jy word toegelaat om met vreemdes te kommunikeer, maar jou eie bloed ouma aan pappa se kant is streng verbode. Hopelik as jy eendag beter kan verstaan en groter is sal die verbod aan jou verduidelik word.

Jy sien, volgens jou ma en jou pa se vrou is ek die ouma wat gedurig loop en vloek en skel. Ongelukkig is die tannie wat so erg gevloek en geskel het wat oorkant die pad van ouma bly, so twee weke gelede oorlede. Nou dit is maklik vir mense om op ander se swakhede en foute te ry en verby hulle eie sondes te kyk en ander te oordeel. Jy sien, Rayden, wanneer grootmense kwaad word, raak hul soms buite hulself van woede as gevolg van frustrasies en magteloosheid van mense wat nie hul lewensomstandighede wil verander met die hulp van ander nie. Hulle sal eerder op ander "teer" en ander uitbuit of so lewe dat hulle jammer gekry word en dan ander se goedheid misbruik.

Sulke mense sien selde of ooit die verandering raak wat in 'n ander persoon plaasvind en is nie bereid om van die verlede weg te beweeg en 'n beter toekoms tegemoet te gaan nie.

Rayden al wat ouma vandag vir jou kan se is, dat ek jou gevolg het van baba tyd af, van die dag van jou geboorte af toe ek jou in my arms gehou het. Daarna is ons vervreemd en het mamma geweier om enige kontak te he. Al was dit dan net op gesteelde foto's, het ek jou grootword gevolg. Selfs die kort rukkie toe ek jou kon ontmoet in pappa se teenwoordigheid na 6 jaar en wat my vir 'n wyle toegelaat was entoe weer kortgeknip is as gevolg van groot mense se "seergemaakte" gevoelens en onvergewinsgesindhede.

Ryaden my kind, ek kan net hoop en bid dat jy eendag die volle waarheid en net die waarheid sal uitvind. Ten minste het ek die gemoedsrus dat jy wel van my bestaan bewus is en wanneer jy eendag groot genoeg is, die moed van oortuiging sal he om my te soek waar ek my dan ookal mag bevind om  my kant van die saak te hoor. Rayden, jy sal altyd in my gedagtes wees, want sien tans bly jy 'n paar minute van my af, nog steeds is my versoeke om besoek aan jou verbode. Soos ek hier skryf is jy tans in gr. 1 en was ek wel toegelaat om jou in Januarie van die jaar te kon sien, let wel net sien. Ek was nie eers behoorllik toegelaat om net met jou te kon gesels nie. Wel groet ja, maar dit was al. Die skelm drukkie en vinnige gesprekkie wat ek van jou kon kry toe mamma haar rug draai tydens jul kaskardag, sal my altyd bybly en weet ek daar is tog 'n band, maak nie saak hoe vervreemd ons van mekaar is nie.

Jou aktiwiteite is nie aan my bekend nie, en moet ek maar raai waaraan jy deelneem en wanneer die skool sekere aktiwiteite aanbied, want selfs dit word van my weerhou.

Dit is my wens dat jy 'n mooi groot jong man sal word met integriteit, want ek weet jy is 'n intelligente seun wat eendag groot hoogtes gaan bereik. Sou ons mekaar dan nooit weer sien nie, weet net ek sal altyd lief bly vir jou. Jy is my oudste kleinseun van ses ander, maar jou plekkie sal altyd oopbly in ouma se huis en in ouma se hart.

Met baie liefde
Ouma Etrecia