Thursday, October 19, 2023

Die hartseer en pyn van 'n kind

Vanoggend gaan ek deur my gallery van foto's en vir een of ander rede stop ek by die foto. Ek vergroot hom, onmiddellik vul die gesiggie my oë met trane.  Met die eerste opslag het ek dit nie raak gesien nie, maar toe ek die foto vanoggend vergroot, sien ek die geweldige hartseer en pyn in die gesiggie van my kleinseun AJ.
Watse ongelooflike seer het hy nie op daardie oomblik ervaar nie. Trane moes sekerlik gevloei het daar waar hy alleen langs 'n dam sit en peins het.

Ouers wat vars uitmekaar is en die leemte van 'n moeder wat nie meer saam dinge meemaak nie.  Die hoekoms en waaroms wat op daardie oomblik deur sy gedagtes gegaan het 

My kind hoe wens ouma suid-afrika vanoggend dat sy net daar kon wees vir jou. Jou net kon vasdruk en saam jou huil. 

Besef ouers wat hul aan hul kinders doen wanneer hul onbesonne dinge aanvang met verwoestende gevolge en letsels laat op hul kinders. Dit net omdat aan eie behoeftes gedink word en kinders nie in ag geneem word nie.

Wanneer ernsaamheid, verlange en depressie lei na drank, dwelm en seks misbruik. Wanneer  ontoegeeflikheid en gebrek aan ondersteuning vir die ander party se behoeftes lei tot vernietigende aksie. Wanneer partye nie hul eie tekortkominge wil erken of hulp wil kry nie.

Dan word  kinders die slagoffers van die aksies. Dan word kinders meestal van die tyd ook gevolge van die aksies,  onvervulde volwassenes.

AJ ouma bid vir jou en Alrie. Ouma bid en hoop dat daar versoening sal kom, al lyk die kanse skraal. By God is niks onmoontlik nie.

Ouma sal altyd lief wees en daar wees vir jul almal.