Sunday, September 08, 2019

Geluk Rayden

Sewe jaar terug is my oudste kleinseun gebore. In sewe jaar kon ek jou bitter min te siene kry of jou leer ken. Tot nou toe word my kontak met jou vir een of ander duistere rede geweier. Ouma hou jou geskenkies vir jou tot jy groot genoeg is om self agter die kap van die byl te kom.  Ouma wil vandag vir jou sê Rayden, mag jy môre ( 9/9/2019) 'n baie mooi geseënde verjaardag geniet. Mag ons Hemelse Skepper jou op jou lewenspad vergesel. Liefde ouma Etrecia.

Tuesday, June 18, 2019

Die Waarheid

 Die waarheid is, (nie soos in Schalk Bezuidenhout se nare waarheid van TV faam nie, maar mens kan dit seker maar daaraan koppel, afhangende hoe jy dit interpreteer.) dat jy nie die volle waarheid vertel word soos dinge gebeur nie om jou sogenaamd teen slegte "elemente" te "beskerm".

Jy sien Rayden, ouma probeer haar bes om deel van jou lewe te wees. maar word ouma elke keer geweier om met jou kontak te he of 'n band te bou omdat grootmense verskille het en sogenaamd "seergemaak" voel en hul ego'tjies seergekry  het. Nou hou hulle sekere dinge van die verlede teen jou ouma aan pappa se kant so asof hulle sonder foute en swakhede is.

My kind, ek was al met vele byeenkomste by jou skool, ongelukkig kon ek jou nie te siene kry nie omdat jy op 'n baie subtiele wyse van ouma af weggehou word. Jy word toegelaat om met vreemdes te kommunikeer, maar jou eie bloed ouma aan pappa se kant is streng verbode. Hopelik as jy eendag beter kan verstaan en groter is sal die verbod aan jou verduidelik word.

Jy sien, volgens jou ma en jou pa se vrou is ek die ouma wat gedurig loop en vloek en skel. Ongelukkig is die tannie wat so erg gevloek en geskel het wat oorkant die pad van ouma bly, so twee weke gelede oorlede. Nou dit is maklik vir mense om op ander se swakhede en foute te ry en verby hulle eie sondes te kyk en ander te oordeel. Jy sien, Rayden, wanneer grootmense kwaad word, raak hul soms buite hulself van woede as gevolg van frustrasies en magteloosheid van mense wat nie hul lewensomstandighede wil verander met die hulp van ander nie. Hulle sal eerder op ander "teer" en ander uitbuit of so lewe dat hulle jammer gekry word en dan ander se goedheid misbruik.

Sulke mense sien selde of ooit die verandering raak wat in 'n ander persoon plaasvind en is nie bereid om van die verlede weg te beweeg en 'n beter toekoms tegemoet te gaan nie.

Rayden al wat ouma vandag vir jou kan se is, dat ek jou gevolg het van baba tyd af, van die dag van jou geboorte af toe ek jou in my arms gehou het. Daarna is ons vervreemd en het mamma geweier om enige kontak te he. Al was dit dan net op gesteelde foto's, het ek jou grootword gevolg. Selfs die kort rukkie toe ek jou kon ontmoet in pappa se teenwoordigheid na 6 jaar en wat my vir 'n wyle toegelaat was entoe weer kortgeknip is as gevolg van groot mense se "seergemaakte" gevoelens en onvergewinsgesindhede.

Ryaden my kind, ek kan net hoop en bid dat jy eendag die volle waarheid en net die waarheid sal uitvind. Ten minste het ek die gemoedsrus dat jy wel van my bestaan bewus is en wanneer jy eendag groot genoeg is, die moed van oortuiging sal he om my te soek waar ek my dan ookal mag bevind om  my kant van die saak te hoor. Rayden, jy sal altyd in my gedagtes wees, want sien tans bly jy 'n paar minute van my af, nog steeds is my versoeke om besoek aan jou verbode. Soos ek hier skryf is jy tans in gr. 1 en was ek wel toegelaat om jou in Januarie van die jaar te kon sien, let wel net sien. Ek was nie eers behoorllik toegelaat om net met jou te kon gesels nie. Wel groet ja, maar dit was al. Die skelm drukkie en vinnige gesprekkie wat ek van jou kon kry toe mamma haar rug draai tydens jul kaskardag, sal my altyd bybly en weet ek daar is tog 'n band, maak nie saak hoe vervreemd ons van mekaar is nie.

Jou aktiwiteite is nie aan my bekend nie, en moet ek maar raai waaraan jy deelneem en wanneer die skool sekere aktiwiteite aanbied, want selfs dit word van my weerhou.

Dit is my wens dat jy 'n mooi groot jong man sal word met integriteit, want ek weet jy is 'n intelligente seun wat eendag groot hoogtes gaan bereik. Sou ons mekaar dan nooit weer sien nie, weet net ek sal altyd lief bly vir jou. Jy is my oudste kleinseun van ses ander, maar jou plekkie sal altyd oopbly in ouma se huis en in ouma se hart.

Met baie liefde
Ouma Etrecia


Wednesday, February 20, 2019

Wie luister vir wie?


 Ek het lank gewik en geweeg oor wat my volgende inskrywing sal wees. Met die inskrywing wat ek nou gaan maak, mag ek dalk op baie mense se tone trap - net 'n waarskuwing.  Ongelukkig is ek 'n baie reguit en op die man af individu. (Die dat ek seker nog nie grys hare het nie.) Ek hou nie van doekies omdraai of 'n opkroppery en 'n gepraat met frilletjies en valletjies nie. As iets my pla sê ek dit en kry klaar. Indien jy nie daarvan hou nie moet jy maar die skoen aantrek soos dit jou pas. Dit is maar net eenmaal hoe ek is.
 Die jonger geslag voel erg verontreg, vernederd  en "seer gemaak" wanneer hul met die waarheid gekonfronteer word of wanneer 'n mens jou stem begin verhef (soos hulle dit noem op hulle skree). Soos in die onlangse voorval ja, maar ek het spesifiek daarop gelet dat ek nie skelwoorde gebruik nie. Dus indien jy "heilig" is en nie soms 'n skelwoord laat val of selfs jou stemmetjie verhef nie, draai terug na die spieel en gaan kyk eers daarin. Indien jy my nie kan aanvaar soos ek is en wie ek is vir wat ek is nie, gaan kyk weer in die spieel.  Dit is my motto in die lewe om mense te aanvaar vir wie en wat hulle is en nie te oordeel nie omdat ekself nie vry is van foute maak in my lewe nie. Dus as jy my nie kan aanvaar nie, moet dan nie eers probeer om my vertroue te wen nie.

Dit is goed vir kinders om hul stemme te verhef en hulself op te ruk wanneer dinge nie volgens hulle weg gaan nie. As ouer moet jy maar net stilbly, aanvaar en saam hul beweeg - ongeag.

Vandag se ouer garde / ouers moet luister na dit wat die kinders se opdragte is en wat jy as ouer moet doen. Omgekeerd kan dit nie meer plaasvind nie. Sodra die ouer weier om aan kinders se eise te voldoen, is jy aan die verkeerde kant en word alles wat in die verlede gebeur het teen jou gebruik of sekere situasies omgeswaai om teen jou te gebruik. Soos wanneer geborsvoed word terwyl daar gedrink en gerook word, sterk kosse geeet word en die kleintjie heel week aan die skree gaan en word ouma daarvoor geblameer omdat ouma so "skel en skree". So word alles verdraai.

En o ja, moenie vergeet nie, as die kinders mors en teer op ma en pa se geld, kos en gasvryheid, moet die ouer verseker dat jy die een is wat agterna gaan skoonmaak en in die skuld gedompel gaan word of sekere dinge gaan moet prysgee om kinders tevrede te hou. Die proses van skuld hersiening "debt review" word as verskoning en skild gebruik om nie vorentoe te kan beweeg of omstandighede word gebruik om nie 'n werk te kan kry nie. So word sekere verpligtinge ontduik. Solank ma en pa ge"melk" kan word om te voorsien in finansiële behoeftes is  alles honkey kedonkey dorie. Asseblief ouers moet dit net nie begin teenstaan  nie dan is jy die vark in die verhaal. Dus wie luister nou vir wie? Wie is die ouer en wie is die kind?
Ek is moeg om te wees soos ander my wil laat wees, ek is moeg om te doen soos ander my wil laat doen en dit hulle geval, ek is moeg om te spring wanneer kinders sê spring, ek is moeg om te luister wanneer kinders opdragte en bevele gee.Ek is moeg om verbied te word om my opinie te lig of dit so te lig sodat niemand in die proses "seergemaak" word nie. Ek is moeg vir lig geraakte mense wat alles swaai soos dit hulle pas. Wat het van die sogenaamde "vryheid van spraak" geword. Ouers onthou net, dit is net kinders wat mag en kan sê wat hulle wil, soos hulle wil en hoe dit hulle pas. Wie luister nou vir wie? 

Nou wil ek maar net sê, jammer dat ek is wat ek is, jammer dat ek jou seermaak, jammer dat ek in jou "pad" staan omdat ek nie wil doen soos jy dit wil hê nie, jammer dat ek ingemeng het, jammer dat ek op jou geskel het, jammer dat ek my huis vir jou oopgemaak het, jammer dat ek agter jou moes skoonmaak, jammer dat julle nie 'n bydrae in die huis gemaak het nie, jammer dat ek my deel in die samelewing gedoen het, jammer dat ek jou nie reg opgevoed het nie, jammer dat ek jou verontreg het,  jammer dat ek jou aanvaar soos jy is, jammer dat ek jou ma is en jammer dat ek die oorsaak is dat ek nie my kleinkinders mag sien nie, jammer dat ek nie 'n miljoenêr is wat alles vir jou kan gee en doen soos jy dit wil nie.

Om as 'n ouer persoon jou sê te sê en jou opinie teenoor die jonger geslag te lig, is die grootste sonde wat 'n mens kan pleeg. Dus is ek ook jammer dat ons as ouer persone jul opinies en optredes nie respekteer en maak soos julle wil hê ons moet nie. Wat het geword van respekteer ouer mense se keuses en val daarby in?  Wat het geword van ons doen wat ons ouers van ons verwag? Wat het geword van pa en ma se woord is wet ten spyte van...?

Wie luister vir wie?