Monday, February 27, 2023

My kind sal jy....?

 


Ek sit nou die eendag in die dokter se ontvangs lokaal en wag vir my man om uit die laser kamer te kom. So in die sit en wag, eintlik het ons in die gangetjie gesit en wag, kom ‘n ma, dogter en ouma verby.


Die ma is ietwat aan die lang kant, dan die dogter effens korter en so treetjie agter die ma, die bejaarde statige ouma.

In die verby gaan vang my oog die bejaarde tannie se hand in die groot sterk jong hand van haar dogter. (Ekself het so pas my pensionaris jare betree). Ek staar my vas teen die treffende prentjie van hierdie jong hand wat die bejaarde hand vashou en besef hoe vinnig ons oud word.

Ten aanskoue van die mooi gebaar en sonder geen rede, raak ek net daar bewoë en kry trane in my oë. So mooi prentjie van respek, omgee en liefde laat my aan my eie oud word toekoms dink.

Terwyl ek nog sukkel om my trane in bedwang te bring, kom my man  uit die laser kamer en moet ons weer terug na dokter se spreekkamer. Met ‘n gesukkel hou ek die trane terug en met ‘n skor stem vra ek manlief hoe dit gegaan het met die laser prosedure. Alles goed afgeloop antwoord hy en stap ons voort na dokter se spreekkamer.

So in die stap begin die vraag toe deur my kop maal. Met my eie kinders en kleinkinders wat so vêr van my af woon, vra ek myself:  my kind sal jy my hand ook eendag vashou in joune,  soos ek joune vasgehou het toe jy begin loop en rond hardloop het? Sal jy dit vir my ook doen my kind?

 

Sal jy …….?

 

Liefde ma en ouma                

Etrecia