Wednesday, February 07, 2018

BLOED FAMILIE




GROOT OUERS!

Ja julle lees reg - groot ouers. Hoe wonderlik is dit nie wanneer jy die dag ingelig word dat jy ouma of oupa gaan word. Die opgewondenheid is groot en die afwagting begin. Reëlings en beplanning begin en ouma en oupa kan nie wag dat kleinding sy/haar opwagting moet maak nie. Ouma begin al rond kyk wat sy kan koop om mee te bederf, die opgewondenheid raak al groter hoe nader die tyd van geboorte kom.

Uiteindelik na 9 maande se opgewondenheid (in normale gevalle) sien 'n nuwe mensie, nuwe lewe die lig. Ma, Pa, boetie, sussie, ouma, oupa, die  hele familie is opgewonde en bly. Vreugde ken nie perke nie en wanneer mamma en kleinding uiteindelik ontslaan word, by die huis kom, word daar behoorlik gekloek en gekoer oor die volmaakte wonderwerkie uit Vader Hand. 

Dan op 'n dag versleg dinge tussen pappa en mamma. Die verhouding is verskeur. Pappa trek weg om horisonne te verbreed sodat hy vir baba kan sorg. Mamma begin weier dat pappa baba sien of verenig. Dinge werk nie vir pappa uit soos hy graag sou wou nie en nog steeds weier mamma dat pappa sy baba sien/kontak maak al is dit dan net telefonies.

Baba is nou al 5 jaar oud, word September 6, ALLE toegang, verbintenisse, kontak, besoeke word geweier vanaf mamma se kant. Bitterheid, haat, nyd en onvergewens gesindheid is aan die orde van die dag van mamma se kant. Groot ouers word geweier en moet teer op foto's wat gesteel word om die vordering van baba, nou kleuter, te kan sien.

Enige toegang en kontak is verbied. Wetlik word  'n hofbevel vereis om toegang tot kleuter te kan kry. Nou vra ek myself die vraag: "Tree howe regtig in die belang van die kind op?" Hoekom moet 'n hofbevel verkry word om 'n kleuter van eie bloed te kan sien en te besoek? Waarom is mammas (veral vandag se jonger garde) so ontsettend nydig om die voorregte van 'n pappa en grootouers te ontneem? Ouma bly 'n hane tree van jou af....maar besoeke en kontak word geweier.

Nou praat mens van mammas wat roem daarop dat hul christene is. Is hulle werklik? Watter genot word daaruit geput om 'n pappa en groot ouers so te "straf" vir die sogenaamde "onreg" wat hul aangedoen is. Het die mamma al werklik haarself die vraag afgevra watter onreg sy haar kleuter aandoen? Gaan dit werklik oor haar kleuter of oor haarself? Tree sy werklik in die belang van haar kleuter op? 

Pappa en ouma (oupa is intussen oorlede, groot ouma en oupa is intussen oorlede) probeer om buite die hof te skik op 'n beskaafde wyse sonder dat kostes aangegaan moet word in belang van die kleuter, want nie beide partye kan dit bekostig nie.

Liewe Mamma, jy wat so hardvogtig is, so haat draend is, nydig is, onvergewings gesind is, wat bereik jy daardeur? Watse satisfaksie bekom jy daardeur? Hoe leef jy met jou gewete saam om jou kleuter van sy bloedfamilie te vervreem en weg te hou? Veral van pappa....

Liewe Mamma, al wat ek vir jou kan doen is om tot ons  Hemelse Vader te bid en vra dat Hy jou sal vergewe vir die onreg wat jy jou kleuter aandoen. Dat jou kleuter, vir die dag wat hy groot is jou nie soos 'n vrot vel sal weggooi en verwyt vir die valse stories wat jy hom opdis oor sy bloedfamilie nie. Hopelik sal sy hart groter en liefde voller wees as wat jou hart huidiglik is. 

Mag die skille van die verlede eendag van jou oë verwyder word, mag die hardheid van jou hart 'n sagte kussing word en mag dit dan nie te laat wees vir jou om te weet dat God jou alreeds vergewe het nie. 

Tyd word vir ons geleen om ons sake reg te maak, die tyd is kort want niemand weet of hy/sy môre nog deel sal wees van die tydelike nie. Nie net met diegene om ons nie, maar ook met ons Hemelse Vader waar iedere en 'n elk van ons eendag sal moet rekenskap gee voor die Regterstoel. 

Groete van 'n baie hartseer ouma. 

No comments:

Post a Comment