Wednesday, July 17, 2013

Terugblik Na Die Verlede Met Die Oog Op Die Toekoms



Met die terugblik na al my vorige inskrywings weet ek dat dit dinge is wat verbygegaan het. Dinge wat in die verlede hoort en nie meer hoef gekoester te word nie. Dinge waaruit seerkry, hartseer en swaarkry voortgekom het, maar ook waaruit 'n mens geleer en gegroei het tot rype volwassenheid en aanvaarding van dinge wat was en kon gewees het.


Die wete dat ons Hemelse Skepper ons al die pad gedra, gelei en gelouter het, bring net lofsange en jubelinge voort. Uit dit alles het ek en my kinders hegter verbintenisse gesmee, groter begrip en meer liefde vir mekaar wat soveel kere verlore gaan in gesinne en individue.
Soveel mooi dinge het intussen gebeur om saam weer die toekoms aan te pak. Die boek van die verlede is finaal toegemaak en die deur van die toekoms oop voor ons. Geleenthede wat ons kan aangryp en kwaliteit tye saam met mekaar deur te bring. Die trots van 'n enkelouer op kinders wat tot volwassenheid en rypheid gegroei het, deur die ergste storms van hul lewens kon staande bly en oorbrug. 'n Sukses van hulle lewens en loopbane te kan maak, kom al die lof en eer toe aan ons Hemelse Skepper wat weereens vir ons gewys het hoe groot Sy genade en liefde in ons lewens was en nog steeds is.

My kinders wat hul pad oopgeveg het tot op die boonste sport van die leer met ondersteuning van vriende en kollegas, wild vreemdes en sommer net die wat opreg omgegee het. 

Vandag kan ek se, ten spyte van moeilike ekonomiese omstandighede is daar net vreugde in ons lewens. Vreugde in die weer vind van 'n lewensmaat om mee saam oud te word, te deel en net sorgvry lief te he sonder voorwaardes. Vreugde om oumaskap te ervaar en vreugde om kinders te sien presteer in hul loopbane.

Daarom wil ek vir almal, oud en jonk wat deur moeilike omstandighede gebuk gaan vandag moed inpraat en se deur elke storm, deur elke hartseer, deur elke seerkry, deur elke lydens pad, deur elke vreugde, blydskap, wanhoop, voorspoed - BLY OP JUL KNIEE VOOR HOM wat net vol genade en liefde is. BLY GLO, BLY BID, BLY VERTROU want dit is HY wat ons deurentyd dra, vertroos, versterk, versorg en lei met Sy onverstaanbare liefde en vrede.



Mag God se seen op elkeen van julle rus en Sy vrede met julle wees.


Liefde


E.T.S

No comments:

Post a Comment